top of page

LYDENSTYD & PAASTYD

  • Ds. Hennie van Rooyen
  • Feb 1, 2017
  • 2 min read

Gedurende Maart is ons midde in Lydenstyd en Paastyd van die kerklike jaar. Dit gebeur maklik dat ons al so gewoond geraak het aan die verhaal van Jesus se lyding, sterwe en opstanding dat die betekenis van hierdie liefdesdaad sy inpak verloor. Ons kan verder in die slaggat trap om dit maar net weer uit gewoonte te vier of Paastyd te sien as die eerste groot vakansie van die nuwe jaar.

Hierdie verskraling van die betekenis van Jesus se lyding, sterwe en opstanding mag plaasvind omdat ons eensydig daarna begin kyk het. Ons konsentreer eensydig op die fisiese lyding van Jesus dat ons die emosionele, geestelike, sosiale en ander verbande van sy lyding uit die oog verloor. Die intensiteit en diepte van sy lyding kom gevolglik nie behoorlik aan die lig nie.

Jesus se lyding begin eintlik met sy menswording. Hy het sy Goddelikheid prys gegee om mens te word. Hy het spot en verwerping ervaar. Hy is misverstaan en beledig. Sy beste vriende het Hom in die steek gelaat op die mees kritieke tyd van sy lewe. Daar was valse beskuldigings teen Hom ingebring en Hy is verneder en belaglik voorgestel. Die eensaamheid en isolasie wat Hy ervaar het, is moeilik om te omskryf en sy angs en sy verlatenheid kan moeilik deur ons verstaan word.

Vandag is daar in die verskillende kerklike tradisies pogings om naas die tradisionele manier om hierdie tyd van die kerklike jaar te vier, ook nuwe inisiatiewe om aan gelowiges nuwe ervarings te bied. Miskien kan ons onsself hieraan blootstel om juis die gevaar van ʼn verskraling oor die betekenis van Lydenstyd en Paasfees te verhoed.

Daar word aan die hand gedoen dat ons minder moet koop in hierdie tyd. Ons moet onsself afvra of ons die artikel regtig nodig. Deur jouself dinge te ontsê, herinner jy jou aan Jesus wat in die woestyn met sy versoeking rykdom, populariteit en mag van die hand gewys het. Ons word so gedwing om te dink aan waaroor die lewe eintlik behoort te gaan.

ʼn Ander voorstel is dat ons aan eensame mense, vervreemde mense, siek mense asook mense wat verwerping ervaar in ons omgewing dink. Hulle name kan op ʼn spesiale plek aangebring word waar gelowiges saamkom om vir hulle te bid.

Vas is van die vroegste tye deel van die kerk se lydens-vieringe. Jy kan jouself van sekere lekkernye weerhou of besluit om nie jou gunsteling drankie in hierdie tyd te nuttig nie. ʼn Mens kan ook besluit om nie vir ʼn periode TV te kyk nie of om jou daaglikse koerant te lees nie. Miskien kan ons sekere ligte nie laat brand nie en so bydrae tot verligting van ons land se elektrisiteitskrisis. Die geld wat ons spaar kan dan vir ʼn goeie doel geskenk word.

In ons huise kan ons simbole op sigbare plekke plaas om ons nuut te laat dink aan die liefdesdaad van Jesus. Daar is baie moontlikhede, byvoorbeeld doringtakke, ʼn ruwe stuk hout, groot spykers, asyn, ens.

Mag die lyding en sterwe van die Here vir jou in hierdie tyd nuwe betekenis hê. ’n Genadige en geestelike verrykende Lydenstyd en Paasfees word vir jou en jou familie toegebid.


 
 
 

Comments


bottom of page