top of page

EK ROEP JOU OP JOU NAAM


Jy is gedoop en geseën met ‘n naam wat duidelik op jou doopseël pronk. Tog is daar talle vriende, familie en selfs kennisse wat jou op n heel ander naam roep. Sommiges noem jou “boeta”, sommiges noem jou “sus”, sommiges noem jou “Aster”, sommiges noem jou “fiefie”, sommiges noem jou “Hi, jy!” ....net een Besondere noem jou sommer net, “God se kind!”


Dit maak vandag nie saak wat jou naam is nie. Dit maak nie saak wie watter troetelnaampie aan jou koppel nie. Dit maak nie saak wie jou naam reg uitspreek of die klem op die regte plek laat val nie, wat wel saak maak is dat jou Naam deur God geken word. Die Here noem jou op jou naam. Hy maak jou Sy-eie deur jou ‘n familie naam te gee. Hy noem jou: “My kind!”


Deurdat Jesus jou “My kind noem”, word daar ’n innige en intieme-liefdes-familieverhouding geskep. Jy is nie sommer nou net ‘n buitestander nie. Jy is deel van die binnekring. Daar waar die hartklop van elke familie is. Daar waar Liefde elke golf van wanhoop en vrees verslaan. Hierdie naam waarop die Here jou roep, verander jou lewe. Vanwaar jy ’n mooi naampie iewers in die heelal was, behoort jy nou baie spesifiek aan die Lewende God wat alles in sy Skepperhand met versigtigheid en liefde vashou.


Ons kan so maklik mense name noem. Troetelname, skelname, haatspraakname, verwagtingsname, onpersoonlike name en soms vernietigende name. Alle name wat ons mense noem het ’n impak op hul lewens. Dit kan hul of inspireer tot hoogtes of hul vernietig tot in die grond. Ons besit die vermoë om deur die manier waarop ons iemand se naam noem die persoon in liefde te verander tot “deel-voel” en “geliefd-voel” en “ek-behoort”- te laat voel.


Mense kan so maklik ‘n sirkel om mekaar trek en sommiges net uitsluit en dan ook nog name aan hul koppel. Genade bo genade, is daar altyd ‘n Liefdesfaktor wat alles wat kwaad en sleg en afbrekend is kan oorwin.


Edwin Markham se bekende gediggie sê dit so mooi:


“ He drew a circle that shut me out –

Heretic, rebel, a thing to flout

BUT LOVE AND I HAD THE WIT TO WIN:

We drew a circle that took him in.”


Dalk is jy ook in ’n situasie waar jy name genoem word, vanaf iets soos : “iemand wat nie sy werk doen nie”, “’n draadsitter” , “’n mooibroodjiebakker”, ’n ja-broer” noem maar op. Dan wil ek graag jou terug roep op jou naam en jou nooi om te reis deur God se liefdesbrief aan jou, die Bybel, waarin Hy baie duidelik vir jou sê in:


Jes.43:1 “EK het jou op jou Naam geroep, jy is Myne!”

en ook Jes. 49:16 “EK het jou naam in my handpalms gegraveer!”


Gaan dan en leef jou naam as: “God se kind” met trots en integriteit uit en onthou in elke naam wat jy iemand op roep dat liefde genees en verander!


Amen.



Comments


  • facebook

Follow

011 837 9770

Contact

Address

41 / 43 Putney Road Brixton South Africa 2019

©2017 This website is managed by Brixton Church

bottom of page