top of page

GEBED OMVAT ALLES


“Gebed is die lewe vir ʼn gelowige en die lewe is gebed vir ʼn gelowige”. Met hierdie woorde het ʼn non haar aanbieding van ʼn lesing oor gebed begin by ʼn kursus wat ek bygewoon het. Almal het regop gesit om te hoor watter wysheid kom uit die lewe van iemand wat haar lewe ten volle aan die Here toewy en ʼn vrugtevolle gebedslewe het. Dit het my diep geraak en my weer laat nadink oor die rol en plek van gebed in my eie lewe.


Eintlik kan ʼn mens nie leer om te bid nie, want gebed is soos die lewe self, ʼn mens moet dit net prakties toepas en so “aan die bid” leer. So word elke poging om te bid ʼn gebed opsigself. Tydens gebed vind daar kommunikasie met God plaas, maar ook kommunikasie met jouself. Mens leer jouself goed ken deur jou gebedslewe. As jy bewustelik voor God lewe is jou lewe al klaar ʼn gebed, want jy staan oop voor God en in kommunikasie met Hom.


In hierdie kommunikasie met God, leer jy ook om te luister. Jy moet na jou eie stem en gedagtes luister, want God is deur sy Gees in jou teenwoordig en praat met jou deur jou eie stem en gedagtes. Dit vra dat gelowiges tyd vir gebed moet maak en dit word dan ʼn dissipline. Jy moet kan nee sê vir ander dinge, selfs dringende en belangrike dinge, om jouself in gebed af te sonder.


Gebed word ook die geleentheid om verras te word deur God. ʼn Totale nuwe rigting kan begin in my lewe as ek oop is om dit wat God vir my in my gebede leer toe te pas. ʼn Voorwaarde vir verrassing en verandering is egter die gewilligheid en openheid om skuiwe te maak. In hierdie konteks word gebed as ʼn gawe uit God se hand gesien.



Comments


  • facebook

Follow

011 837 9770

Contact

Address

41 / 43 Putney Road Brixton South Africa 2019

©2017 This website is managed by Brixton Church

bottom of page