top of page

As God ons dra


“Een nag het ek gedroom…” Dis die welbekende inleiding tot ‘n gedig of frase wat ons al menigmaal gelees het. Voetspore gaan voort om te beskryf hoe die persoon se lewe verby flits en telkens tydens die moeilike tye in sy/ haar lewe is daar net een ry voetspore in die sand. Dit terwyl daar gewoonlik twee is want God is saam op die lewensreis deur die verlede.


Die vraag ontstaan dan hoekom is daar juis in die moeilike tye slegs een ry voetspore? Die antwoord gee te kenne dat dit die tye was wat God Sy kind gedra het en daarom is daar slegs een ry spore.


Dit is seker op die oog af ʼn pragtige beeld van God se bystand en ondersteuning in ons lewens en veral tydens die moeilike tye. Dis immers gerusstellend om te weet dat God daar is as ons deur die moeilike tye in ons lewens worstel.


Aan die anderkant laat die gedig mens wonder want dit maak nie regtig sin nie. Die bekende teoloog, Stephan Joubert, het eendag iets tydens ʼn gesprek genoem dat dit onlogies is om te dink dat God ons optel as dit swaar gaan en net so maklik weer neersit en eenkant los as dit goed gaan. As dit weer moeilik gaan dan tel Hy ons gedwee weer op. Dit is immers nie in God se aard om ons net te los nie, Daarvoor is Hy te lief vir ons. As Hy ons sou los dan het ons groot moeilikheid, want as ons baie eerlik is met onsself, moet ons erken dat ons nie kan asemhaal sonder God nie.


God dra ons 24 uur van elke dag. Daar is nie een enkele oomblik wat Hy ons neersit nie. Ons hele lewe se terugflitse behoort inderwaarheid net een ry spore te toon. Dit behoort deurentyd net God se spore te toon. Geen twee rye spore nie, want Hy het ons nog nooit neergesit nie. Ons word nog steeds elke dag styf deur Hom vasgehou sonder enige vrese.


Ons is so geneig om God te blameer as die lewe bietjie draaie met ons loop. Ons is geneig om in opstand te kom teen God want, dit is Sy skuld dat die slegte dinge in die lewe ons tref. Ons dink dan instinktief dat God ons verlaat het. Hy het ons neergesit. Hy het ons verlaat.


Dit is heeltemal in teenstelling met dit wat in die Bybel staan. Jesus het verskeie kere terwyl Hy sy dissipels voorberei het op Sy dood en opstanding, hulle verseker dat Hy hulle nie alleen los nie. Hy sal ʼn Helper stuur wat deurentyd by hulle sal wees. Daar is verskeie ander verwysings in die Bybel wat God bevestig dat Hy ons nie sal los nie. Hy het ons op ons naam geroep. Ons is Syne. Ons name is in Sy handpalm gegraveer. Niemand sal ons uit Sy hand kan ruk nie. As ons deur vuur gaan sal Hy sorg dat ons nie skroei nie en vlamme ons nie brand nie. Riviere sal ons nie wegspoel nie.


Telkemale bevestig Hy Sy trou aan ons. Ons is gewoonlik die skuldige party wat Sy hand los. Dis ons wat die veiligheid van Sy omarming verlaat. Dis ons wat hardkoppig ons eie wil volg en altyd aan die kortste end trek. Die uiteinde is gewoonlik dat ons God blameer. Ons eerste denke is dat Hy ons alleen gelaat het. Dat Hy ons as’t ware neergesit het. God het ons nie gedra deur die lewe nie.


Ons moet miskien weer na die gedig gaan kyk en nadink of dit nie dalk anders bewoord moes word nie. Dalk moet daar eerder staan dat die twee rye voetspore die tye was wat ons God se arms verlaat het. Dalk moet ons daaraan dink dat dit dalk juis moeilike tye was omdat ons dalk weggedwaal het. Indien dit nie wegdwaling was nie, was dit dalk bloot lesse wat ons in die lewe moes leer juis om ons beter en sterker mense te maak.


As God ons dra is dit permanent sonder enige onderbrekings. Hy sit ons nooit neer nie.

Comments


  • facebook

Follow

011 837 9770

Contact

Address

41 / 43 Putney Road Brixton South Africa 2019

©2017 This website is managed by Brixton Church

bottom of page