top of page

Die kosbaarste besitting wat ek het is my geloof in God

  • Anon
  • Apr 30, 2013
  • 3 min read

Ons kennis van God is tweedehands. Ons geloof is tweedehands.


Skok hierdie stelling jou? Toe ek die artikel gelees het, het dit my geskok en ek was woedend. Hoe kan iemand die bewering maak? Maar kyk na hierdie feite.

  • Eers kry ons as kleuters die kennis van ons ouers - tweedehands.

  • Later onderrig ons Sondagskoolonderwysers ons in godsdiens - weereens tweedehands.

  • Dan begin ons die Bybel lees en bestudeer en verkry kennis – maar dit is steeds tweedehands.

  • Dan is daar ook Sondag na Sondag wat ons die boodskap van die predikers hoor – steeds tweedehands.

Nadat ek die feite deeglik nagedink en ontleed het, het ek tot die besef gekom dat baie Christene nooit die grens oorsteek van tweedehandse Christene na ware Christene nie. Na aanleiding van hierdie stelling is die vraag dus: “Is jou Christenskap tweedehands?” Die vraag kan ook gestel word “Is jou geloof jou eie ware geloof?”


Die antwoord is nie die geloof van jou vader of van die kerk nie, maar jóú geloof. Is dit jou eie? Daar is ‘n groot verskil tussen ‘n hoorsê “geloof” en ware geloof deur persoonlike ervaring, tussen om daarin te glo dat God goed en lief is omdat die Bybel so sê teenoor dat jy glo as gevolg van ʼn persoonlike ontmoeting met God. Geloof is méér as tradisie, méér as die oorlewerings van die voorvaders. Dit vra ʼn persoonlike verbintenis en toewyding aan God wat weerspieël word in die manier waarop jy binne jou tradisie lewe. (Wil Vosloo)


In Efesiërs 2:8 word gesê dat ons inderdaad uit genade gered is, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit onsself nie; dit is ʼn gawe van God.


Iemand het gesê om waarlik geloof te hê in die lewende God is ʼn inspirasie en ʼn bron van geweldige geestelike krag. Dit maak God ʼn lewende werklikheid in jou daaglikse lewe.


Om ‘n ewewigtige geloof te handhaaf waardeur die liefde en doel van God kan vloei, moet jy inspirasie put uit ʼn positiewe gebedslewe, die bestudering van God se Woord en ʼn persoonlike verhouding met God. Deur in harmonie met God te wees sal jy groei in gelykvorming aan Hom en sal jy Sy weë op ʼn praktiese wyse uitleef.


Geloof is die algehele afhanklikheid van God se wil en die gewilligheid om te doen wat Hy ons beveel om te doen, wat dit ook al mag wees. Jou geloof moet voortdurend groei en lewend bly. Die beste manier om geloof te voed is deur God se Woord. Dit inspireer jou om te bly glo en Hom te vertrou. Daarmee saam moet ons gereeld terug dink aan die goeie dinge wat God vir ons gedoen het.


Ware geloof hou baie beloftes in wat ons telkens in die Bybel raak lees as ‘n versekering dat ons gered is.


  • Omdat ons Hom aangeneem het, omdat ons in Hom glo, het Hy ons die reg gegee om kinders van God te word (Joh. 1:12)

  • Ons ontvang wat ons in gebed vra omdat ons glo (Mat. 21:22)

  • Omdat ons glo is ons kinders van God (Gal 3:26)

  • Omdat ons glo is niks vir ons onmoontlik nie (Mat 17:20)

  • Omdat ons glo doen ons die dinge wat God van ons vra (Joh. 14:12)

  • Omdat ons glo is ons van ons sondes vergewe (Hand 10:43)

  • Omdat ons glo lewe ons nie meer nie, maar lewe Christus in ons (Gal 2:20)

Ferdinand Deist het gesê: “Geloof maak nie blind soos mense soms beweer nie, geloof is geen opium nie. Geloof is ʼn leefwyse. ʼn Lewenswyse uit die versekering dat God regeer.”


Here, ek wil nie net ʼn geloof besit nie; ek wil ʼn geloof hê wat my besit.

Comments


  • facebook

Follow

011 837 9770

Contact

Address

41 / 43 Putney Road Brixton South Africa 2019

©2017 This website is managed by Brixton Church

bottom of page