top of page

GELUIDE


Om my weerklink die klank van die nag. Teen my kamervensters eggo ’n geluid vanuit die verte. Die bang van ’n kriek onder my bed of ’n voetstap buite my venster verstil my tot ’n stywe onroerbare swaargewig liggaam onder ’n snoesige kombers op ’n matras.


In my gedagtes hoor ek ’n stem wat ek naboots en vinnig in woord nasê: “Die Here is my herder, die Here is my Herder...die Here….Herder die …is !....”, die stem vervaag en skielik is daar ʼn nuwe geluid wat my tot ʼn verdere stil-stuipe in my bed ruk. Split-sekondes vlieg by my verby met gedagtes aan wat sou die regte ding wees om nou te sê.


Voor my staan ’n ongetroude jong vrou van drie en dertig. Moeg gesnuif aan dwelms. Haar roomkleur-gesiggie vertel die verhaal van net nog ʼn drankie en net nog ʼn vinnige “lyn” (dwelmsnuif) en net nog ʼn kliënt om gou te sien om ʼn ekstra rand in die bankrekening te plaas vir net nog ʼn bier en net nog ʼn snuif aan dwelms. Sy snik... “Ek is aan die einde van my pad! Ek is vier weke swanger!” “Dit is nie wat ek vir myself beplan het nie!” “Wat maak ek? Ek is bang vir my ma en pa se reaksie!” Ek het ʼn afspraak gemaak by die kliniek in Randburg om die baba te vernietig!” “Dit is nie so erg nie, want dit is net vyf tablette vir R1500-00 en die baba is weg!” In die agtergrond in die groot ou boom met sy swaar gelaaide takke tjirp ʼn magdom mossies hul lewenslied uit in volle bors. Ek staar verbouereerd voor my uit. Woordeloos staan ek voor haar. Vraende in my gedagtes ten spyte van dat ek weet wat die geluid is wat ek moet maak vra ek aan myself wat is die geluid wat ek nou hierop moet maak?


ʼn Ou tannie van vier en negentig vertel aan my ʼn verhaal van verwerping, alleen wees in die oudag. ʼn Verhaal wat ontplooi as rimpeleffek op haar eie keuses. Sy grou bewende-hand in haar grysswart oorlaaide handsak tussen talle ouderlingpilletjies heen. Ek vra na wat sy soek en of ek kan help. Haar stem bewe en dan die antwoord: “My botteltjie slaappille, want die seer is vir my te veel.” In my gedagtes roep ek na God. “Here, gee vir my woord, my woorde ontbreek!”


Voor my in die kerkbank staan ʼn jongman dansende en prys die Here in sang. Sy liggaam en stem komplimenteer mekaar hoog bo die res van die samesangers heen. Sy hande strek hy uit na God! Sy hele wese vertel die verhaal van ʼn aanbiddende passie vir die Here… en dan raak die musiek stil… hy val op die kerkbank neer langs sy maats. Ek hoor sy vraag aan sy vriend: “and how was that for performance? Do you think I will be able to entertain?” My hart ruk!


Die is maar ʼn paar gebeurtenisse wat my tot vlak voor die vraag bring: “watter geluide maak ons om aanvaarbaar te wees?” Watter geluide maak ons om die regte klank te gee aan ʼn situasie waarin die split-pad so fyn is. ʼn Split-pad na die keuse van wat die wêreld van ons verwag om te sê en die anderkant van die split-pad wat van ons vra of ons gaan die geluid maak wat God wil hê ons moet maak.


Is ons nie soms almal in ʼn situasie waarin ons die vinnigste mees aanvaarbaarste antwoord op ʼn situasie wil gee net om hetsy aanvaarbaar of dalk geliefd of “in” te wees nie of dalk omdat ons te haastig is om ons eie afsprake en mense te akkommodeer.


Soms word ons in situasies geplaas waarin die Here vir ons so duidelik uitstip dat dit wat die persoon waarmee ons in gesprek is, doen of mee besig is teenstrydig is met Sy liefdesgebod.


Dis juis in sulke situasies waar die keuse so groot is. Gaan ons die geluide maak wat God van ons verwag om te maak of gaan ons knak onder die emosie en die jammerte en die stigma van “nie-die stroom-op-salm” wees nie?


Om die Here te volg verg ʼn prys. Om met onsself eerlik te wees verg ʼn prys. Om opreg te wees in dit waarvoor ons staan en dit waarin ons glo, verg ʼn prys. Dit verg ʼn eerlikheid. ʼn Standvastigheid. ʼn Onwankelbare gevestigde vertroue op die Here van lewe en dood. Dit verg ʼn vriendelikheid wat nie skroom om in mooiheid die waarheid te praat nie. Die verg ʼn sensitiwiteit vir die God wat binne in die mens is wat voor ons sit of staan. Dit verg ʼn verhouding met die lewende God. Die God wat in elke situasie wil geken wees. Die God wat ʼn pad saam met ons wil stap.


Watter geluide maak jy? Of kreun jy net onderlangs sonder om ʼn definitiewe geluid te maak?


Maak vandag die REGTE GELUIDE ongeag wat die gevolge daarvan sal wees. Geluide wat vir God tel! Geluide wat jou naaste tot voor God se liefdestroon bring. Geluide waarin God die Alfa en die Omega is! Geluide waarin jy weet dat God in beheer is en dat Sy liefde en genade nooit te min of te laat is of sal wees nie. Maak geluide wat eerlik is. Geluide wat nie jouself bevoordeel ten koste van jou naaste nie. Geluide wat sorg dat alle grense oop en duidelik is. Geluide wat nie dubbele boodskappe stuur nie, maar ʼn enkele boodskap van “Ek staan op vir die Waarheid en die Lewe. Vir die God wat ons innig lief het!”


Ek wil jou graag seën met die ou Fransiskaanse seënbede:


“Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde,

halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings

Sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.

Mag die Here jou seën met woede oor onreg

onderdrukking en die uitbuiting van mense

Sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.

Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense

wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar

Sodat jy ʼn hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap verander.

En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo

dat jy ʼn verskil in die wêreld kan maak

sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.”



Amen.



Comments


  • facebook

Follow

011 837 9770

Contact

Address

41 / 43 Putney Road Brixton South Africa 2019

©2017 This website is managed by Brixton Church

bottom of page