top of page

GOD SE FOTO VAN JOU LEWE


Harold Tweedie vertel die verhaal oor die bou van een van die moderne katedrale wat lank geduur het en ook baie vermoeiend was. Boonop was ʼn besonder irriterende voorman in beheer van die bouwerk. Al die manne het heeldag geloop en brom en kla onder mekaar. Daar was egter een persoon wat elke dag vrolik gefluit het terwyl hy gewerk het. Op ʼn nat miserabele dag het iemand na hom gestap en gevra hoe hy dit regkry om te fluit terwyl die res so somber lyk. “Wel,” het hy geantwoord, “elke more voor ek begin, loer ek by die kantoor in en kyk na die prent van die voltooide katedraal wat daar teen die muur hang. Dan dink ek aan die wonderlike werk waarmee ons besig is, en ek besef dat selfs ek, al is ek net ʼn sementmenger, deel het aan ʼn grootse werk: om ʼn wonderlike katedraal te bou wat eendag hier sal staan.”


Die verhaal klink so na ons daaglikse bestaan. Hoeveel keer staan ons nie elke dag met ʼn gebrom en gekla op nie. As dit nie persoonlike probleme is nie is dit politieke probleme, maar ons vind so maklik iets om oor te kla en te grom. Ons weier soms om die mooi en die positiewe raak te sien. Ons kyk vas teen die sleg en die swaar en dit maak elke dag opnuut ʼn gestoei net om aan die gang te kom. Jou werkgewer is ongeskik en die verkeer is chaoties en die petrolprys is alweer deur die dak en so kan ons dae lank aangaan.


Maar ons vergeet die sonsopkoms wat so pragtig op die horison verskyn het. Ons vergeet van die voëls wat ons wakker sing met ʼn vrolike lied. Ons vergeet dat ons asemhaal en kon opstaan. Ons vergeet dat ons gesond is en kan beweeg. Ons vergeet dat God aan ons die genade geskenk het om nog ʼn dag se werk te kan verrig. Ons vergeet die sonsondergang wat die einde van nog ʼn sonskyngevulde dag aankondig. Ons vergeet van die sterre wat die naglug tooi met hul sprankel. En ons vergeet om op ons knieë te gaan en God te dank vir al die seëninge ten spyte van struikelblokke.


Net soos die sementmenger moet ons ook elke dag eerste met God gaan praat en hoor wat is die foto wat Hy vir ons lewe in gedagte het. Hy het klokslag elke oggend eers gaan seker maak wat die eindproduk gaan wees van die bouery en dit het hom gemotiveer om die einddoel te behaal ten spyte van ʼn omgekrapte voorman en ongelukkige kollegas. Hy het die foto voor oë gehou en daarop gefokus en dit het hom vreugde verskaf om te weet waarna hy werk.


As ons elke oggend eers by God gaan seker maak wat Hy ingedagte het vir ons, sal ons dalk minder kla en meer verby al die moeilikhede kyk. Ons sal dan dalk sien dat Hy soos Hy in Sy Woord belowe net voorspoed ingedagte het. Hy het ons nie geskape om deur die lewe te ploeter en te sukkel nie. Hy het ons geskape om Sy liefde uit te straal na almal om ons. Hy het immers lank voor enige een van ons se geboortes reeds geweet wat ons lewe gaan behels. Hy het dit lank reeds beplan en volgens Psalm 139 ken Hy ons beter as wat ons onsself ooit sal ken.


Dit is dus logies dat ons elke dag by God moet gaan hoor hoe lyk Sy foto van ons lewe. Ons is so geneig om ons eie foto's te ontwikkel in ons denke en dan te dink dat dit God se handewerk was. Ons moet elke oggend gaan seker maak ons foto stem nog ooreen met God se foto. Ons sal dan ook soos daardie sementmenger met ʼn lied in ons hart die dag kan aandurf want God se foto is ʼn pragstuk wat net die beste en mooiste inhou. Uit elke moeilikheid vloei daar seën en uit elke hartseer vloei daar tog vreugde. Dis nie noodwendig ʼn aardse vreugde nie, maar wel die vreugde dat God in beheer bly en ons nooit sal verlaat nie.


God se foto is vol beloftes. God se foto is ʼn meesterstuk. God se foto is gevul met liefde en met genade. God se foto is ʼn versekering dat ons nooit ons eie foto hoef na te volg nie. God se foto kan in een Persoon saamgevat word - Jesus Christus. Hy is immers ons Begin en Einde en die Voleinder van ons geloof. Ons moet net ons fokus hou op daardie pragfoto van ons lewens. God se foto - ʼn grootse werk waaraan ons deel het.



Comments


  • facebook

Follow

011 837 9770

Contact

Address

41 / 43 Putney Road Brixton South Africa 2019

©2017 This website is managed by Brixton Church

bottom of page