top of page

TEVREDENHEID: 'N NUWE LEWENSUITKYK


Die psalmdigter van Psalm 131 kyk na die rustigheid en vrede van kinders by hul moeder. Dit word ’n beeld vir die rustige vertroue van gelowiges in die Here. “Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.” (vers 2) Die Ou Afrikaanse vertaling help ons baie beter met hierdie teks: “Soos ’n gespeende kind by sy moeder,” só het die psalmdigter tot rus gekom.


’n Gespeende kind. Verby is die onrustige dae van ’n kindjie wat aan sy moeder drink en kort-kort huil en onrustig is. Die gereelde behoefte aan voeding of aandag is verby. Die eerste totale afhanklikheid van die babafase behoort tot die verlede. In plaas van onrustigheid is daar vrede. Vir ’n gespeende kind is bloot die teenwoordigheid van sy moeder genoeg.


Wat verby en afgehandel is

Hierdie kort psalm begin met drie negatiewe stellings. Daarmee wil die psalmdigter sê wat alles afgehandel en verby is in sy lewe:

· Selfverheffing;

· Hoogmoed, en

· Besorgdheid oor dinge bo sy vermoë.


Selfverheffing beteken letterlik ’n hart wat hoog is. Hoogmoed is letterlik oë wat hoog is.


Selfverheffing en hoogmoed kan ’n innerlike gesindheid of uiterlike gedrag, of beide, aandui. So ’n mens is selftevrede en voel outonoom. Dit is die houding van die regte breker, die selfgemaakte mens wat alles kan doen, nie “nee” vir ’n antwoord vat nie, die oordonderende go-getter of die stille determinasie van die mens wat onafhanklik deurdruk tot die einde toe. Hiermee word die hoogmoed en arrogansie bedoel van hulle wat alles in eie krag en onafhanklikheid van God aanpak. Dit is die hardgebakte menslike ambisie wat jou eie agenda ten alle koste volg.


Om jou nie besorg te maak oor groot dinge nie, verwys in die psalm na ’n lewensstyl waar jou lewe sentreer rondom ambisie en skemas wat die eie belang voorop stel. Dit gaan oor die aanstel­lerigheid (“presumption”) dat jy alles weet waarop dit aankom, en jou lewe in jou eie hande hou.


Die wete dat alles nié in jou eie hande lê nie, dat God groter is as ons denke en planne, dit bring rus. Vrede is die versekering dat geluk en vrede nie met beheer, kontrole, kennis, eie beplanning, volledige onafhanklikheid saamhang nie, maar met rus in God se nabyheid.


Nie op dieselfde vlak as God nie

Al drie negatiewe stellings druk die gedagte uit dat ons nie op dieselfde vlak as God is nie. Dit gaan oor ondergeskiktheid en vertroue. Die psalmdigter vertrou sy lewe geheel en al aan die Here toe.


Psalm 131 is ’n psalm vir moderne mense. Ons kultuur verhef die kwaliteite wat Psalm 131 afwys. Hoe meer onafhanklik, hoe meer statusbewus, hoe meer selfversorgend, hoe meer onverdunde ambisie, hoe ’n beter Westerling is jy. Nie afhanklikheid, of interafhanklikheid nie, maar die selfgemaakte mense wat goed doen vir hulself is in ons kultuur die ideaal. Die verlies aan hoogmoed, selfverheffing en alwetendheid is ’n groot wins. Afhanklikheid van die Here skep nuwe geborgenheid en vrede.


Die digter is duidelik gespeen van die dinge wat eers sy menswees in beslag geneem het. Hy het afstand gedoen van die dinge wat sy lewe eers in beslag geneem het. Al wat hy nou nodig het, is die teenwoordigheid van die Here. ’n Diep, innerlike vrede het in sy hart teruggekeer. Dit beteken nie dat daar geen stryd is nie, maar wanneer mens in die teenwoordigheid van die Here kom, op God se skoot kom sit, verdwyn jou onrus in die lig van sy teenwoordigheid.


Mag ons hierdie gesindheid van rus in die Here aktief soek sodat ons tevredenheid kan vind.

Comments


  • facebook

Follow

011 837 9770

Contact

Address

41 / 43 Putney Road Brixton South Africa 2019

©2017 This website is managed by Brixton Church

bottom of page