MENSWAARDIGHEID
- Ds. Hennie van Rooyen
- Sep 2, 2013
- 4 min read

Dit is waar dat die woord “menswaardigheid”, afkomstig van die Latynse dignitas, nie in die Bybel gebruik word nie. Nogtans word aanvaar dat die sentraliteit van die begrip “menswaardigheid” in die moderne wêreld slegs deur die invloed van die Christelike geloof deur die eeue heen verklaar kan word – iets waarop baie historici en sosiaal-wetenskaplikes, ook nie-Christene, wys. Dit beteken dat die Christelike geloof die samelewing beïnvloed het en steeds kan beïnvloed.
Christus bewerk ’n omkering van waardes. Só gee Hy uitdrukking aan God se gesindheid teenoor mense. Hy bevestig dat God met die mens identifiseer, ’n God vir mense wil wees, self mens geword het en steeds menslikheid vir die mens in volheid wil realiseer. God ag mense só waardevol dat Hy sy Seun na hulle stuur. Sy Seun lê sy lewe af vir mense. Hy tree in ’n verhouding met mense van alle stande, afkomste, generasies en oortuigings. Hy was sy dissipels se voete. Hy raak die verworpenes en gebrokenes aan. Hy bevry die besetenes. Hy herstel die waarde van vroue en kinders in die samelewing.
Hy bevestig dat God hoë agting vir alle mense het. Hy gee daarom sy lewe prys vir alle mense.
God se toekenning van waarde is sonder voorwaarde. Dit geskied nie op grond van mense se geloof, ras, afkoms, gedrag of vermoë om te presteer nie. Dit geskied slegs op grond van God se verbintenis en sy trou aan mense.
Hierdie verhouding waarin God met die mens tree, maak die mens tot sy beeld. As God hierdie verhouding sou opsê, sou die mens ophou om beeld van God te wees. Mense se dignitas is deur God aan hulle toegeken, ongeag enige vermoë of oortuiging, inherente kwaliteite of erkenning wat hulle mag geniet of nie mag geniet nie. Die posisie of gesindheid van God teenoor mense word deur Jesus op ’n radikale wyse gedemonstreer. Die waarde wat Hy aan mense heg, is só hoog dat Hy sy lewe vir hulle aflê.
Jesus se bediening het radikale gevolge vir die wyse waarop ons oor mense en oor magsverhoudings dink. Trouens, sy omkeer van die magsverhoudings van sy tyd, vorm deel van die kern van die Evangelie.
Jesus het byvoorbeeld geleer dat man en vrou, wanneer hulle in die huwelik tree, ’n nuwe familie-eenheid moet vorm en op hulle eie moet gaan woon. Dit verteenwoordig ’n radikale breuk met die Joodse patriargale gebruik dat die vrou die besit van haar man se familie word wanneer sy in die huwelik tree. So ook verteenwoordig Jesus se aandag aan en openbare gesprekke met vroue ’n radikale breuk met die patriargie van sy tyd. Sy ongekende passie vir die randfigure van die samelewing, kinders, vroue en vreemdelinge, kan nie as onbelangrike inligting afgemaak word nie. Dit is egter veral sy deelnemende betrokkenheid, sy beliggaming van sorg en sy oorsteek van grense na mense wat deur magtiges uitgesluit is, wat die sleutel tot die Evangelie se oproep tot die erkenning van alle mense as beeld van God word.
Hierin moet Christus nagevolg word. Hy teoretiseer nie net oor randfigure nie. Hy vat aan die onreines. Hy gaan tuis by die verworpenes. Hy voer teologiese gesprekke met vroue. Hy laat in die geselskap van grootmense die kinders op sy skoot sit. Hy deurbreek die onderskeidinge van “ons” en “hulle” en skep ’n nuwe gemeenskap van mense wat mekaar as gelyke ontvangers van genade ag. Selfs in die storie wat Jesus vertel om te illustreer hoe God se naasteliefde lyk, gebruik Hy die Samaritaan, die “ander” van sy konteks, as die een wat naasteliefde doen.
As my waardigheid nie, oor die dignitas van my posisie in die samelewing afhang nie, maar van God se liefde vir my, dan beteken dit dat marginalisering, uitsluiting, benadeling, ontmagtiging en onreg indruis teen ’n waardigheid wat ek van God ontvang en wat God in my wil realiseer. Kulturele faktore wat in die weg staan van lewe in volheid soos God dit bedoel, kan dus nie deur Christene aanvaar word nie – ook nie in die kerk nie.
Dit geld ook die verhouding tussen kulture. Die kerk is ’n “kruis-kulturele” gemeenskap – ’n gemeenskap waarvan die kultuur, die manier van saam lewe, deur die Gekruisigde bepaal moet word, maar ook ’n kruising waar verskillende kulture – tale, gewoontes, simbole, praktyke en so meer – mekaar ontmoet en wedersyds beïnvloed. Net soos in die breër samelewing waarvan die kerk deel uitmaak, is die risiko in die kerk as alternatiewe samelewing dat kulturele oorheersing ongelykheid, ontmagtiging en so meer in die hand werk. Dat daar in die kerk geen Jood of Griek, geen slaaf of vrymens, geen man of vrou is nie, beteken dus nie dat almal nou dieselfde moet word nie. Daarom het Paulus so sterk weerstand gebied teen die idee dat Christene uit die heidendom die Joodse kultuur in die vorm van besnydenis en ander gewoontes moes oorneem om voluit deel van Christus se liggaam te kan wees.
Aan die ander kant aanvaar Paulus ook nie dat mense met verskillende kulture maar apart van mekaar kerk kan wees nie. Daarom het hy Petrus skerp aangespreek toe hy bereid was om eenkant saam met Joodse Christene te eet toe hierdie Christene nie bereid was om met nie-Joodse Christene te verkeer nie. In die boek Handelinge word vertel van die Griekse weduwees wat in die bediening van die woord afgeskeep is, en hoe die apostels toe besluit het om spesiaal diakens aan te wys om na daardie vroue se behoeftes om te sien – ’n bewuste reëling om te verseker dat kulturele faktore, in hierdie geval taal, nie sekere mense ’n marginale posisie in die Christus-gemeenskap gee nie. Dink verder aan die verhaal oor die uitstorting van die Gees: Wanneer die Gees kom, word die taalverskille tussen mense uit verskillende wêrelddele nie met een, “Goddelike” taal of kultuur vervang nie, maar word kommunikasie en interaksie op ’n manier moontlik gemaak wat niemand bo iemand anders stel nie.
Die kerk kan nooit aanvaar dat sekere kulture of kulturele dimensies in ’n samelewing oorheersend word nie. Die kerk moet aandring – en self demonstreer – dat dit tog moontlik is om verskille in een gemeenskap te kan akkommodeer op ’n manier wat die gemeenskap verryk, eerder as skei of verarm.
Dit is juis die moeilike uitdaging wat die leierskap van ons gemeente aanvaar het. Ons het baie voorbidding en wysheid, sowel as onderskeidingsvermoë nodig, om God se menswaardigheid vir alle mense in ons omgewing te vestig. God het elke gemeentelid nodig in hierdie proses!
Komentáre