top of page

Die Christelike Lewe is 'n Reis


Geen mens bly konstant dieselfde nie. Soos die jare aanrol, word jy òf mensliker òf minder menslik, òf vryer òf minder vry. Jy groei of nader na God toe in jou geestelike toewyding of jy hou God op ʼn afstand en nader Hom net wanneer jy Hom nodig het. Die Christelike lewe is 'n weg, 'n reis. 'n Mens moet beweeg, vorentoe òf agteruit.


Die afgelope twee jaar is ek bevoorreg om opgelei te word as ʼn Geestelike Begeleier (Spiritual Director) onder die leiding van dr. Willem Nicol en sr. Mary Fischer by die Sentrum vir Spiritualiteit. Ek word telkens gekonfronteer met die beweging en groei in my eie lewe. Watter kragte help ons beweeg? Ek deel graag met jou van die insigte wat deur die kursus tot my gekom het.


1. Lewenskeuse


Wat is die diepgewortelde, soms onbewuste, grondkeuse in elkeen se lewe? Is dit ek, my en myself, of is dit die verlange dat God my toenemend in Hom moet intrek? Kies ons om oop te wees vir God se poging om naby ons te kom? Vra ons na sy wil en laat ons Hom toe om ons te lei?


2. Voeding


Die ou Indiaan het vir die jongeling gesê hy het twee wolwe binne-in hom. Hulle is die heeltyd besig om met mekaar te veg. Die een is 'n goeie wolf en die ander is 'n slegte wolf. Die jongeling beaam dit. Hy is al te goed bewus van sy twee wolwe. Hy vra die wyse man of hy weet watter wolf gaan wen. "Die een wat jy voer", was sy antwoord.


As aanhangers van die Blye Boodskap, weet ons waar die goeie wolf sy kos kry. Voer ons hom genoeg daarvan?


3. Soek God se teenwoordigheid


Die mens is van nature geneig om van God weg te beur.


Ons elkeen se ekkigheid is besonder taai en skelm. Tyd in God se teenwoordigheid is die enigste manier om dié weerstand stadig maar seker af te breek. Hou aan om maniere te soek om stil te word sodat die intieme band tussen jou en God versterk kan word. En hou aan daarmee totdat dit 'n gewoonte word. Jy sal mettertyd daarna begin smag.


God is ook op ʼn besondere manier teenwoordig in die eredienste. Die Bybel beklemtoon dat Hy daar is waar twee of drie in sy Naam bymekaar kom. Ons kry daar noodsaaklike geestelike kos om te groei.


4. Maak wins uit probleme


Wanneer jy 'n probleem het, kan jy 'n probleem daarmee hê dat jy 'n probleem het. Só verdubbel jy nie net jou probleem nie, maar neutraliseer jy ook die waarde wat dit vir jou kan inhou.


Dit is jammer dat die lewe so vol probleme en pyne is – ons moet hulle nie soek nie – maar wanneer hulle tog daar is, is hulle kosbare oefeninge om ons meer afhanklik van God se wysheid en krag te maak.


Deur probleme en pyn te omhels, kan 'n mens net nader aan Hom beweeg. Neem jou probleme aan as joune. Hulle kan vir jou kosbaar word.


5. Oefen met keuses


Ons is geneig om baie van ons groot én klein keuses sonder God te maak. Dit raak dan 'n dubbele verlies, want ons maak swakker keuses. Boonop verloor ons die groeipotensiaal wat die proses van keuses-maak inhou. Jy kan jou keuses uitoefen met die houding dat jou lewenskeuse God se wil is, in die geloof dat Hy jou denke en gevoelens en gesprekke wil gebruik om jou te help om Sy wil te onderskei. Dan help elke keuse jou verder op jou reis.


6. Dien


Met ons hande en voete kan dit alles geoefen word. Sien jouself as dienaar van God en mense. Dien oral waar jy kan. Goeie diens beteken nie jy degradeer jouself tot 'n slaaf wat jouself uitbrand nie, want goeie dienaars pas hulleself op om in staat te wees om die beste diens te kan lewer.


7. Vertrou


Wanneer jy die heeltyd probeer, sonder om te vertrou, gaan jy nie die pad enduit kan loop nie. Die een wat jou vir die reis aktiveer, is die Here. As jy nie werklik daarin vertrou nie, as jou "doen" nie in hierdie groter geloof ingebed is nie, gaan dit 'n "ek"-poging wees. Dit gaan tussen jou en die Here staan. Jy mag miskien dink jy vorder, maar omdat jy nie in afhanklikheid groei nie, vorder jy op pad na geestelike hoogmoed wat een van die lelikste sondes is. Die reis gaan ten diepste om meer en meer van God afhanklik te word.

Comments


  • facebook

Follow

011 837 9770

Contact

Address

41 / 43 Putney Road Brixton South Africa 2019

©2017 This website is managed by Brixton Church

bottom of page