top of page

SILWER RANDJIES


Elke donker wolk het ʼn silwer randjie. Dis ʼn uitdrukking wat ons almal goed bekend is mee. Ons sien die letterlike uitdrukking daarvan in die natuur as die son se strale weier om verberg te word deur ʼn wolk en die rand van daardie wolk ʼn heel ander aansien gee. Die wolk het skielik ʼn glans en prag wat nie voorheen daar was nie.


So sien ons ook telkemale die figuurlike uitdrukking van die beeld in ons alledaagse lewens. Hoeveel keer word ons nie deur die uitdagings in die lewe platgeslaan nie? Daar hang ʼn spreekwoordelike donker wolk oor ons situasie, maar tog is daar selfs in die donkerste oomblik ʼn wete dat daar uitkoms sal wees. Die son wil-wil ook deurbreek en vorm dan die rand om jou wolk.


Die lewe loop soms wye draaie met ons. Ons sukkel baie dae om te verstaan hoekom dinge gebeur. Ons tob met tye dae lank oor gebeure. Ons beland in situasies waarvoor ons nie gevra het nie en nog minder op voorbereid is. Daar is dae wat ons op moedverloor se vlakte gaan sit en behoed die een wat ons daar wil af kry. Dis mos party dae net lekker om vir jouself jammer te voel. Die sanger Leon Ferreira het ʼn lied geskryf genaamd “Stop die wêreld, ek het seergekry.” Die lirieke gaan voort om te sê dat hy net wil afklim en by God wil bly sit want hy het lank genoeg saamgery in die wêreld waar alles teen hom is.


Dis dan wanneer ons net by God wil gaan stilsit en toegevou wil word in Sy arms. Dis dan wanneer jy soos ʼn klein kindjie jou kop teen Sy groot, sterk bors wil laat rus en al jou sorge uitstort. Jy weet soos enige pa gaan Hy stilsit en luister. Hy gaan jou nie afjak en wegjaag of aanjaag nie. Abba-Vader gaan jou troos en Hy gaan vir jou berusting bring en Hy gaan jou toelaat om jou hart leeg te maak.


Jy gaan na ʼn tydperk van stilte en kalmte weer kan opstaan en self van moedverloor se vlakte afstap. Die nuwe energie wat deur jou bruis sal niemand kan verklaar nie, maar in jou hart gaan jy weet wat die rede daarvoor is. Jy gaan bewus wees van God se ingryp in jou verlorenheid. Jy gaan bewus wees van die son wat die wolk nie toegelaat het om hom heeltemal te verberg nie. Die silwer randjie is skielik ʼn vol helder lig wat agter die wolk uitbeweeg het.


Dit is nodig dat ons meer gereeld tyd maak om stil te word by ons Vader. Ons het almal nodig om net weer bewus te raak van God se liefde vir ons en die feit dat hy ons nooit alleen laat nie. As die donker wolke om ons saampak gaan ons die silwer rand soveel makliker kan herken want ons is geanker in die Lig. Die Lig wat deur geen wolk gedoof kan word nie. Die Lig wat deur die eeue heen die enigste konstante werklikheid is en was en sal wees.


Abba-Vader nooi jou vandag en elke dag uit om by Hom te kom sit. Hy nooi jou uit om jou op Sy skoot tuis te maak soos ‘n kindjie by sy aardse pa. Hy wil graag, dat as jy voel die wêreld moet eerder stop, dat jy by Hom sal afklim om heel te word. Wil jy Hom nie die geleentheid gun om dit vir jou te doen nie? Ons nooi jou om die Adoramus dienste by te woon wat jou die geleentheid bied om juis dit te doen. Dis kosbare tye op Vader se skoot waar die wêreld stop sodat jy vir ʼn wyle kan afklim en asem skep.


Mag Abba-Vader jou seën met silwer randjies wat helder ligte word omdat die wolke nie stand kon hou voor die Lig nie.



Comments


  • facebook

Follow

011 837 9770

Contact

Address

41 / 43 Putney Road Brixton South Africa 2019

©2017 This website is managed by Brixton Church

bottom of page