HERE, EK HET U SO LIEF!!!”
- Tersia Engelbrecht
- Nov 26, 2013
- 3 min read

Dit is laatmiddag, Woensdag. Die son se strale groet reeds die dag vaarwel. Die dagtaak lê nog in verwarring en verwoesting oor die kantoorlessenaar gestrooi. My hartklop is onrustig. Die verkeer buite stoom nog in gekke-haas. Kinders, mense, karre, taxi’s, trokke en busse almal wil huis toe jaag. Die wysers van die horlosie tik in ritme teen die tollende eise en verwagtinge van hierdie dag. ʼn Maalstroom van gedagtes verskiet. Die kommer van die lewensweg dra ek swaar. Telkens veral ek in ʼn diep hartseer oor dit wat gebeur en dit wat kon wees. Ek sien gesigte in my geestesoog wat wissel van iemand wat pleit om gebed vir iemand wat siek is . Ek sien die gesig van iemand wat glimlag van oor tot oor by die bereiking van ‘n hoogtepunt of sukses in lewenseise behaal. Ek hoor stemme van uit my geheuebank van hul wat skakel net om iets te vra, iets te reël, iets te vertel, iets oor te kla….iets…. iets…iets….!! My binneste skreeu teen hemele iewers moet dit tot bedaring kom!!!!
Dit is vyfuur. Woensdagmiddag! Die absolute stilte van die bidkamer omvou met eens my uitgeputte siel. Die strale van die son versplinter in ʼn spektrum van kleure oor die nou kerkvensterbank. ʼn Tortelduif koer in vrede sy liefdeslied oor die bloue hemelboog. My moeë liggaam word een met die harde houtstoel. My voete vergiet in die blink blokkiesvloer. Mede reisgenote kom in stilte sit om die flikkerende kersvlam van ʼn Christus-kers. Sewe spierwit kerse loof die Here in vlamme-dans op die kandelaar in die verste hoek. In rustige agtergrond ‘n aanbiddingsmelodie strelend oor gees en siel. Die ritme van my hart verstadig. Die asem-tempo van reisgenote in tasbare stilte om my vertel ʼn verhaal van kalmte wat hul na groene weiveld lei. Vrede het oor ons gevou! Strome van lewende-water voed ons dorstige gees! God is teenwoordig! Die Here is hier! Ons is op heilige grond! Hier sou engele in eerbied hul oog bedek met sagte-vlerk. Met geboë hoof bedaar my binneste tot tevredenheid en elke gedagte van angs word in die Almagtige teenwoordigheid van die God van liefde, bedaar.
In sagte, hoorbare stem- ʼn fluistering van God se kind: “Elkeen wat van hierdie water drink sal weer dors kry, maar wie van die water gedrink het wat EK HOM GEE, SAL IN ALLE EWIGHEID NOOIT DORS KRY NIE, nee die water wat EK hom gee, sal in hom ʼn fontein wees met water wat borrel en vir hom die ewige lewe gee” (Joh.4-13-14)
Woorde verspring vanuit die boodskap gebring: “ʼn Fon-tein”….”borrel” “dors”! En dan oorweldig die wete ….”Ja, Here, ek het dors!” In stille meditasie buig my siel hom neer tot die God van Lewende water! Die God van “nooit weer dors!” Die God van Ewige Lewe! Die God wat aanbied…….”wie van die water gedrink het wat EK hom gee….”
Die woorde word vir ʼn tweede keer sag voorgelees. Die Vader van gedagtes vul my met ʼn borrelende opgewondenheid. “Elkeen”…”ja Here, ook ek!” “water drink”….ek moet aksie neem, mag nie passief sterf van dors” “wat EK gee” - God offer, God bied aan…. “Ag Heer open oë, laat ons U hand sien” “’n fontein wat borrel” “Here, laat my ook ʼn fontein wees waarin ander kan kom water drink. Water waarin hul U kan vind in my optrede, my genade, my liefde, omgee, woorde en sensitiwiteit….Here, maak my minder en U meer!”
Stilte vul die tasbare teenwoordigheid van God in die kamer van gebed. Sewe kersvlamme dans in eerbied voor die genade van God. Reisgenote in stille gesprek met die Vader, Seun en Gees. Piet-my-vrou se roep eggo deur die mure van die gebedskamer tot in die binnekamer van ons hart. Here, U is teenwoordig. U is Majesteit! U is Liefdevolle Vader! U is vrede! U is genade! U is Almagtige God
Stil val die skadu’s van die flikkerende vlam teen die verste muur. Reisgenote gekniel in gebed. Gedagtes gevange deur God geneem. Vrede word ervaar bo verstand. Stil het pelgrims na God gekom. Stil het hul vertrek. Versterk deur Lewende water om vir Jesus die Minnaar van hul hart borrelende fonteine te wees.
Ek stap die gebedskamer uit. In my hart neurie die lied: “There is a Name I LOVE to hear…I love to sing its worth, It sounds like music in my ear, The sweetest Name on earth. Oh How I love Jesus! O how I love Jesus!”
Die laaste kersvlamme verdoof deur die kerkvenster….Jesus is in my hart! My gedagtes tevrede, rustig in die wete “I adore you Lord!”
“Ja, Here, ek is voete-onderstebo lief vir U!
ʼn Inskrywing in my dagboek staan uit as volg: Woensdagmiddag, 17:00.
ʼn Afspraak met Jesus! ʼn Afspraak wat ek nie wil mis!
Stilte by God! ADORAMUS!
Amen.
Comments