top of page

DIE VOORHANGSEL SKEUR


In sy omwandeling op aarde het Jesus baie siekes genees, blindes weer laat sien, dooies weer aan hulle dierbares teruggegee. Vanweë dit alles kom daar stadigaan ’n skeurtjie in die gordyn wat ons verhoed om God te sien, in sy hart te kyk. Maar as Jesus nie gesterf het nie, sou daardie skeur nooit voltooi word nie. Dan sou die voorhangsel nog gehang het. Want dan sou dit beteken dat daar êrens ’n punt kom agter God se liefde. Dan sou daar êrens ’n punt wees waar God gaan omdraai. Maar juis in Jesus se dood, word die gordyn hard oopgeruk. So hard oopgeruk dat dit skeur!

Die tempel het hoofsaaklik uit drie dele bestaan: die binnehowe waar die volk en selfs nie-Jode kon ingaan; die Heilige waar slegs die priesters kon ingaan; en die Allerheiligste waar slegs die hoëpriester een keer per jaar kon ingaan om vir die sondes van die hele volk boete te doen (lees Levitikus 16 hieroor). Die tempel se voorhangsel het die Heilige en die Allerheiligste van mekaar geskei. Ons lees in Matteus 27 vers 51 dat nadat Jesus aan die kruis sy laaste asem uitgeblaas het, die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur het. Die feit dat dit in twee geskeur het, was simbolies daarvan dat die skeiding tussen God en mens deur Christus se dood afgebreek is. Nou is alle mense vry om na God te gaan omdat Christus die prys volledig vir ons sonde betaal het.

Die voorhangsel (gordyn) was ongeveer agtien meter lank en omtrent tien sentimeter dik en geweef van duursame blou, pers en rooi wolmateriaal en goeie linne met gerubs daarop geborduur (Eksodus 26:31-32). Die indrukwekkende grootte en dikte van die voorhangsel maak die skeur daarvan in twee ’n dramatiese gebeurtenis om die relevansie en betekenis van Jesus se sterwe sterk te beklemtoon. Die direkte toegang tot God is bewerkstellig en die oop verhouding met Hom vir alle mense vir alle tye word so simbolies uitgebeeld.

Hebreërs beklemtoon die werk van Jesus as Hoëpriester in Hebreërs 10. Hy verduidelik hoe ons verhouding met God moet wees deur die werk van Jesus met die van die hoëpriester se werk in die heiligdom te vergelyk. Ons in nou self “priester” en ons kan in die heiligdom ingaan. Die heiligdom versinnebeeld intieme, persoonlike kontak met God. Om in die heiligdom in te gaan beteken nie dat ons iewers heen moet gaan om God te ontmoet nie, maar dat ons God se nabyheid ervaar en dat ons persoonlik kontak met Hom het. Deurdat Jesus sy liggaam geoffer het, het Hy versoening tussen ons en God bewerk en daarom is die terrein agter die voorhangsel, die Allerheiligste nie meer vir ons verbode nie. “Broers ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam” (Hebreërs 10:19 en 20).

En nou kan ons God se liefde sien. Nou hoor ons die stem van God se hart wat sê:

Jy mag dalk aan My ongehoorsaam wees, My verloën, My seermaak. Dit mag wees dat jy my slaan en verwond, dat jy ’n doringkroon op My kop sit, dat jy met My die spot wil dryf, My in die gesig spoeg. Jy mag My miskien so haat, dat jy my aan ’n kruis ’n skande maak, daaronder met my klere dobbel, My spyker vir spyker vasnael...... Maar Ek sal jou liefhê! Ek sal jou liefhê, al moet Ek vanweë My liefde sterwe. Ek sal NOOIT ophou om jou lief te hê nie!

Daar is vir ons ’n venster oopgemaak in die hart van God......sodat ons kan sien hoe God ALTYD is!

Nou het ons direk toegang tot God se hart van LIEFDE.

Hennie van Rooyen

Comments


  • facebook

Follow

011 837 9770

Contact

Address

41 / 43 Putney Road Brixton South Africa 2019

©2017 This website is managed by Brixton Church

bottom of page