Paasfees
- Anon
- Mar 31, 2018
- 4 min read

Ons staan weer eens in die skadu van die kruis. Elke jaar gaan ons deur dieselfde proses – die somber atmosfeer rondom die kruising, die kruiswoorde word in herinnering geroep en dan Sondag: die vreugde van die opstanding. Paasfees gaan oor die grootste gebod – liefde – en oor vergifnis.
Elke jaar met Paasfees is daar ander dinge rondom hierdie tyd wat my aandag trek en waarop ek nog nooit antwoorde kon vind nie. Hoe het hierdie gebeure ander mense op daardie dag beïnvloed?
Eerste was daar Pilatus. Ons lees in Mat: 27 v 14 dat hy verwonder gestaan het omdat Jesus niks te sê gehad het oor die aantuigings en vals beskuldigings teen hom nie. Pilatus het toe al besef dat Jesus onskuldig is. Hy het alles probeer om die skare se siening te verander, maar het later besef dat hy nie die skare van plan kon laat verander nie en dat daar ‘n oproer kon plaasvind. Daarom het hy sy hande in onskuld gewas.
As die Goeweneur het hy seker een van die beste huise gehad waarvandaan hy oor die stad kon kyk. Het hy en sy vrou op die balkon gestaan en kyk hoe Jesus gemartel word en weggevoer is na Golgota? Wat het hy gedink? Het hy in enige stadium daaraan gedink om sy weermag op te roep om hom te help om die skare te beheer en Jesus vry te laat? Hoe het hy gevoel nadat hy in kennis gestel is dat Jesus dood is? Ek is seker dat as hy vandag geleef het, het hy permanent kalmeermiddels gebruik en weekliks sy sielkundige besoek om van die skuldlas ontslae te probeer raak.
Ek wonder ook wat het hy gedoen toe berig ontvang is dat Jesus opgestaan het. Het hy Jesus in die geheim besoek en om vergifnis gevra vir sy aandadigheid in hierdie treurspel? As hy het, weet ek dat hy vergifnis sou ontvang het en as ek hy was sou ek deur my dade ‘n verandering wou bring aan die samelewing.
Tweedens was daar Maria, moeder van Jesus. Elizabeth Eybers noem haar nie verniet vrou van smarte nie. Maria, terwyl jy daar aan die voet van die kruis gesit en ween het oor jou seun, het die verlede weer voor jou afgespeel? Die dag toe jy kennis gekry het dat jy, ‘n maagd, swanger was; hoe jy die smaad en agteraf geskinder moes verduur. Het jy weer aan God se belofte gedink, Luk 1:33, dat Hy sal koning wees oor die huis van Jakob, en aan sy koningkryk sal daar geen einde wees nie. Hierdie belofte het jou al die jare gedra. Nou sit jy by die kruis en jou seun is dood. Valslik beskuldig, gemartel, geskop en geslaan. Hy is dood en God se belofte is nie vervul nie.
Wat was jou gedagtes toe jy gehoor het dat hy opgestaan het? Hy leef weer.
Derdens was daar die dissipels. Ons weet nie presies wie almal by die kruis was nie. Wat het julle gedink? Dat hierdie Man net nog ‘n leke prediker was wat julle met mooi woorde en wonderwerke van julle familie en vriende weggelok het. Daar was al die beloftes van die ewige lewe, vergewing van sondes, ens. Nou is Hy dood en Hy kon homself nie eers red nie. Was julle vreesbevange en het julle gevlug bang dat die soldate julle gaan kom soek en ook gaan kruisig?
Vierdens was daar die soldaat wat beskryf word as die hoofman oor honderd. Ek dink hy was daar vanaf die oomblik toe Jesus gevange geneem is. Hy het die straf vir Jesus uitgeroep en seker gemaak dat dit toegepas word en het seker ook die wreedste strawwe uitgedink. Hy het by die kruis gestaan terwyl sy soldate die spot met Jesus gedryf het - red jouself, vra Eli om jou te red. Wat het hy gedink toe Jesus vir een van die misdadigers gesê het dat hy vandag saam met Jesus in die Paradys sou wees? Wat was sy gewaarwordinge toe die sonsverduistering en aardbewing plaasgevind het? Nadat Jesus sy laaste asem uitgeblaas het, het hy Jesus verheerlik en gesê: “ Waarlik hierdie man was regverdig.” Maar nou was dit te laat, hoofman, Jesus was dood. Het jy jou pos bedank en na die dissipels gaan soek om meer te leer oor wat Jesus hulle bevel het om te doen? Miskien het jy ook ‘n dissipel geword om Jesus se woord te verkondig.
Laastens is daar ek of jy. Hoe sou jy opgetree het as jy teruggevoer kon word in tyd na die kruis? Moenie dadelik antwoord en sê dat jy sou regverdig opgetree het en sou geveg het om Jesus se onskuld te bewys nie. Kyk maar hoe ons die bedrog van ons samelewing aanvaar en niks daaraan doen nie. Hoe reageer ons op al die sektes wat ooral kop uitsteek?
Het die kruisiging en opstanding slegs ‘n verhaal uit die Bybel geword wat geen plek het in ons daaglikse lewe nie? Glo jy dat Jesus gesterf het vir ons sondes omdat God geweet het ons is nie instaat om die straf vir ons sonde te dra nie? Glo jy dat Hy opgevaar het na die hemel en dat hy weer sal kom om ons na ons ewige huis te neem?
Om Jesus te dien, beteken om vir Hom te getuig in woord en daad. Dit is een ding om iets te sê, maar iets anders om dit volhardend te doen. Toe Hy verhoor en gekruisig is, was daar niemand om vir Hom te getuig nie.
My gevolgtrekking is dat ons mensekinders nie perfek is nie, en ons kan nie vandag ‘n uitspraak lewer oor die dade van die mense wat by die kruising betrokke was of wat hulle gemotiveer het om te doen wat hulle gedoen het nie. Ek besef ook dat ek nie antwoorde sal kry op my vrae nie.
Jesus, vergewe ons dat ons U daagliks kruisig in ons handel en wandel. Help ons om tussen reg en verkeer te onderskei en altyd die regte keuse te maak.
Comments