Buitestaanders
- Margaret Halgryn
- May 16, 2018
- 3 min read

Ons is al so gewoond aan bedelaars by verkeersligte en letterlik op elke tweede hoek. As jy in Johannesburg bly is die kanse goed dat jy gereeld met mense te doen kry wat kom vra vir klere en/ of kos. Jy raak dit half gewoond en jy leer mense so bietjie uitken. Die kansvatters, die opregtes, die uitbuiters, die arrogantes en so kan ek voortgaan. En jy help hulle almal sover moontlik. Soms is daar regtig nie kos om te gee nie. Soms is daar nie klere om te gee nie, maar jy gee net iets al is dit hoe gering.
Dan is daar dae wat die situasie en omstandighede van mense jou sommer net omgooi en net weer laat besef ons het nog so 'n ver pad om te stap in hierdie land. Die media word oorspoel met verhale oor die armoede onder die swart gemeenskap en die blanke gemeenskap, maar daar is 'n stilte oor die ander minderhede in ons samelewing. Laat ek verduidelik wat ek bedoel.
Dit was tyd vir ons weeklikse Adoramusdiens (meditatiewe diens) en net toe ons wou ingaan staan 'n jong Indiërman voor die hek. Hy praat vinnig en verduidelik hy soek aseblief net 'n baadjie of 'n kombers. Die sekuriteit van die gemeenskapsforum het sy goed verbrand en hy het niks oor. Sy klere is vol gate, maar skoon. Hy is skoon. Hy vertel dat hy sy lewe probeer herbou na sy rehabilitasie van dwelmverslawing. Hy kry nie werk nie en hy doen loswerk net om te kan eet. Hy slaap in iemand se erf in 'n stukkende voertuig. En hy vertel van sy geloof wat hom staande hou.
Nou ja, na vele verhale is ek mos al redelik skepties, want dis mos maar die standaard as iemand kom hulp soek. Dis egter nie vir my om hom te oordeel of hy opreg is en of hy net stories opmaak om gehelp te word nie. Hier help ons almal sover moontlik indien ons die nodige middele tot ons beskikking het. Ek draai toe maar om om vir hom 'n baadjie te gaan soek en met 'n stil stem in my kop keer ek terug met meer as net die baadjie. Maar dit wat my hart ruk is die prentjie voor my toe ek uitstap by die deur oppad om vir hom die klere te gee. Hy sit op die muurtjie waar niemand om hom is nie, onbewus van my teenwoordigheid, en huil terwyl hy hardop bid. Toe hy besef ek is oppad word die trane vinnig afgevee, opgespring en die dankies volg.
Hoe meer ek daaroor dink besef ek hierdie jongman is 'n slagoffer van 'n samelewing waar hy eintlik 'n uitgeworpene is. Hy is 'n totale minderheid in terme van ras. Hy kom moontlik ook vanuit 'n ander geloofsoortuiging en is ook daar verwerp omdat hy die Christelike geloof aangeneem het. Hy word verwerp deur mense omdat hy 'n verslaafde was.
Hierdie jongman moet letterlik veg vir oorlewing en dit omdat hy 'n randfiguur is. Hy is nie deel van die hoofstroom bevolkingsgroepe nie. Hy kry te doen met vooroordele sover as wat hy gaan. En nou staan hy voor ons deur....
Hoe nou gemaak? Nie net in terme van hierdie enkeling nie maar ook die wyer prentjie. Hoe tree ek en jy op teenoor hulle wat randfigure is? Hulle wat anders as ons is? Hulle wat volgens ons vooropgestelde idees veronderstel is om behoorlik selfversorgend te wees? Hoe faal ek en jy in die uitlewing van ons roeping in hierdie wêreld? Ja, faal. Ons kry beslis nie die goue medalje vir voortreflike optredes nie, want 99% van die tyd faal ons onsself en ons medemens. Ons vooroordele maak dat ons mense klassifiseer en dan daarvolgens besluit of ons bereid is om te help.
Dis dan wat ons moet terugkeer na ons geloof en ons God. Sien, Jesus het nie mense weggewys net omdat hulle anders is nie. Hy het hulle nadergetrek en omarm. Hy het juis meer empatie met die randfigure gehad. Hy het heel gemaak. Ons moet Hom dit nadoen. Ons moet mense toelaat om ook by ons heel te word. Geen veroordeling nie. Net liefde. Liefde gaan oor in dade en dade is om Jesus se hande en voete hier op aarde te wees.
Mag ons elke dag meer en meer soos Jesus word. Mag ek en jy mense omarm met liefde. Mag ons werklik Jesus se hande en voete word en wees.
Commentaires