top of page

Die son was nie haastig!


Daar was ’n dag toe die son nie haastig was om onder te gaan nie!

Die son het gaan stil staan!

Die maan het nie verskuif en die son het nie geroer nie.

’n Volle dag het verlore gegaan in die oog van die wat nie wou glo nie! ’n Geveg het in ’n laagte plaasgevind. ’n Man met die naam Josua het ’n reputasie gehad omdat hy en sy manskap vreesloos die stad Ai en Jerigo oorwin het. Daar het vermenging van Israeliet en Gibeoniet plaasgevind en dit het die mense van Jerusalem bang gemaak. Die Koning van Jerusalem se vrees dryf hom en hy stuur ’n boodskap aan die konings van Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon waarin hy benoud aan hul vra dat hul hom moet kom help om die stad Gibeon aan te val. Die mense van Gibeon het bevriend geraak met die Israeliete! Die vyf Amoriete-konings het bymekaar gekom en laer opgeslaan by Gibeon en oorlog begin voer.

Die Gibeoniete het ’n boodskap aan Josua gestuur en laat weet dat al die konings van die Amoriete wat in die berge woon saamgesweer het en oorlog teen hul begin maak het. Hul het gevra dat Josua hul sal kom help. Josua het al sy manne wat goed kon veg bymekaar gemaak en gaan help. Josua het met die Here gepraat en die Here het vir Josua gesê om nie bang te wees nie, want Hy sou hom help om die oorlog te wen. Die Here sal hom so help, dat nie een enkele een van die teenstanders iets teen Josua en sy manne sal kan regkry nie. Daarna het Josua die hele nag geloop en op die mees onverwagste tyd by die Amoriete aangekom. Die Amoriete het so geskrik en begin om te vlug vir die Israeliete, maar die Israeliete het hul manskappe uitgewis oor berge en oor heuwels heen tot en met by die stede Aseka en Makkeda.

Josua het daardie dag met die Here gepraat. Dit was die dag wat die Here die Israeliete oorwinning laat smaak het teen die Amoriete. Die Israeliete het gehoor hoe Josua daardie dag gesê het: “Son, jy moet stilstaan by die stad Gibeon, maan, jy moet stilstaan in die Ajalon-vallei”.

Selfs die vyf konings het gevlug en hulself versteek in ’n grot. Al Josua se manskappe het teruggekeer nadat hul die vyf konigs in ’n grot gevind het en hul in opdrag van Josua gedood is en aan ’n boom opgehang was om later die aand afgehaal te word.

Daardie was die dag wat die Son nie haastig was om onder te gaan nie. Die dag waarop die Son stilgestaan het, die maan nie verskuif het nie en die son traag was om te roer.

Vir ons klink dit amper onmoontlik. Sommige geleerdes probeer allerande verklarings aan die verskynsel koppel. Sommige beweer die stilstand is veroorsaak deur ’n (onnatuurlike) haelstorm wat in die middel van die somer in Palestina plaasgevind het. (Josua 10:11)

’n Ander verduideliking is dat dit toe te skryf is aan ligrefraksie wat as gevolg van ’n baie koue winterlug die illusie geskep het dat die son nog skyn al was hy lankal onder.

’n Verdere moontlike verklaring wat aangebied word, is dat ’n meteorietreën in die veertiende eeu voor Christus (volgens Josua 10:11a) waar in die Hebreeus letterlik staan dat die Here groot klippe uit die lug/hemel op die vyande gegooi het. Van die wyse wetenskaplikes het dit op hul beurt toegeskryf aan ’n totale sonsverduistering.

Wat nog meer lagwekkend is, is dat sommiges dit toeskryf aan ’n polemiese konflik tussen God en sekere van die kanaänitiese gode (naamlik die son-en maangod).

Vandag as ons aan bogenoemde verhaal dink, sal ons ook vanuit ons oogpunt verskeie redes kon aanvoer as poging tot verklaring van die Son se stilstand en ook die maan se onbeweeglikheid op daardie dag.

Vir die Christen is dit duidelik dat geen enkele poging wat die mens op enige vlak van sy of haar lewe aanwend moontlik is sonder die hulp van God. Hoe gering dit ookal vir ons klink of lyk, sonder God is ons tot absoluut niks instaat nie. Dink daaroor na, as God vandag nie vir jou en my suurstof voorsien het nie, sou ons nie kon asemhaal nie. As God vandag nie vir ons die wondergawe van sig gegee het nie, sou ons vanoggend toe ons wakker geword het nie, kon sien nie. As God die breinselle van die mens tot stilstand sou roep sou geen enkele sel in ons liggaam kon funksioneer nie. Ons besef nie hoe kragtig gebed is nie! ’n Gesprek met die liefdevolle God! Ons besef nie altyd hoe ongelooflik wonderlik die Here is ook in Sy genade wat Hy aan ons bewys nie. Sonder God se ingrype is ons absoluut verlore. Vir Josua hou God se ingrype nie net genade en oorwinning in nie, maar ook die grootheid van God se mag en majesteit. God se ingrype is duidelik ook in die wonderwerk wat Hy as Heerser en Koning en Skepper daardie dag laat plaasvind het, naamlik die haelstorm midde-in die oorlog waarna verwys word in Josua 10:11. Die haelstorm wat van die vyande gedood het en ook in die ongelooflike magtige wonderwerk waarin God die son en die maan laat stilstaan het, getuig van God se grootheid en mag!

Dit is ongelooflik treffend en raak die hart so diep en intens van die kind van God, wat nader en stywer teen Sy Vaderhart wil beweeg, om te besef dat die Here vir Sy kind die onmoontlike moontlik wil maak ook in die storms van Sy kind se lewe. Hy wil ook in die “oorlogtye”, hetsy emosioneel, fisies of psigies Sy beloftes aan Sy kind gestand hou.

Die Here stel nooit teleur! Hy buig Hom neer tot op die aarde, strek Sy arms op na die hoogste hemele, raak die son in sy wentelbaan en stuit die maan in die donkerste nag! Die Here seën Sy kind op die mees ondenkbaarste oomblik met die grootste wonderwerk in Sy magtige ingrype. Die Here seën die wat aan Hom gehoorsaam is en gee hul vyand aan hul oor deur ook ’n “sonstilstand en ’n maanstilstand” vir hul te bring.

Josua het met die Here gepraat. Hy het in sy God geglo en vertrou. Hy het aan Sy God se belofte vasgehou en die menslik onmoontlike daardie dag verwag! Die son het stil gestaan. Die maan het nie geroer nie. Die son was traag om onder te gaan en God het oor Sy kind gewaak en oorwinning in oormaat gegee.

Dalk voel ek en jy ook soms om die Here te vra om die son en die maan vir ons te laat stilstaan. Dalk omdat die omstandighede vir ons oorweldigend is en ook omdat ons besef dat ons menslik nie instaat is om alleen sonder God deur die moeilike pad te stap nie…dan kom die Here en Hy gryp in! Hy gryp in op ’n wyse wat vir ons maar net weer opnuut laat besef dat Hy alleen God is en dat Hy al die lof en eer waardig is.

Ja, dalk wil jy ook vir God vra om die son en maan vir jou te laat stil staan omdat jy in ’n seisoen is waarin jy die mooiste van mooi en heerlikste van goed en die onbeskryflikste genade van alle genades van God in jou lewe intens ervaar al stap jy oor klippe en dale kaalvoet.

Kind van God, roep tot God en laat Hy jou voete onder jou uitslaan in Sy almag! Laat Hy jou deur die “oorlog” lei, al vat dit jare of maande of ure! God is die Skepper van die Son! God is die Skepper van die maan! Hy spreek en dit sal so wees!

“die son was traag om onder te gaan en die maan het tot stilstand gestaan!”

God is in beheer! Hy doen dit ook vir ons!

Amen.

 
 
 

Comments


  • facebook

Follow

011 837 9770

Contact

Address

41 / 43 Putney Road Brixton South Africa 2019

©2017 This website is managed by Brixton Church

bottom of page