top of page

‘n HEILIGE VERBINTENIS!


Joh 15: 5 “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.”

Die winter lê grou-grys om my heen. Die wind sny deur diepte van elke murg en been. Dier en mens word nie een daarvan verskoon nie. Soms waai die blare fladderend oor die grou-grys straat. Menige sluk aan ’n verby warrelende vlaag stof en sand. ’n Ver-af-skater-laggie van ’n kind en ’n slenter-sleep van ’n kaalvoet-bedelaar gaan my oor en oog nie verby nie. ’n Blink motor wat stilhou by ’n stopstraat. ’n Vrou geklee in dik pels, serp om die nek en tien tree verder op die rand van die beton-oerwoud se grens, in ’n vrot-stinkende karton verskuil, weggegooi met die hoop dat hul sal verkluim of sterf, lê vier klein baba katjies, verwerp, maar opgekrul, stert oor mekaar se neus. Dit is koud! Die tortelduif het hom opgeveer in die hoogste tak. Die son lag ‘n opgewarmde laggie oor die boomlaning in trae strale neer waar blare in ongekende greep deur die wind die liefde-verbintenis van ‘n boomtakkie verlaat.

‘n Saadjie het in die wind gewaai. ‘n Veer het van ‘n tarentaal oor die kaal leegtes van die veld tot teen die draadheining gedans. Op ‘n stoep stil en gedwee, sit ‘n bejaarde en staar niks denkend na die wingerd op die plaas van jare gelede. ‘n Lemoen in die hand. Gedagtes aan ‘n seisoen van seën, ‘n seisoen van Hoop.

Die suurlemoenboom buig sy jongstammetjie in die wind, my oog merk ‘n klein knoppie aan die kortste tak. ‘n Laat belofte van vrug om te kom, of dalk ‘n vroeë teken van hoop? Miere draf haastig by mekaar verby elkeen met ‘n stukkie kos in die kaak. ‘n Duif koer in die verte en ‘n kolgans roep na sy maat.

Die Here het geskep! Die Here het gegee!

Die Here voorsien en die Here seën. Die Here het almal gemaak! Seisoen, natuur, emosie, mens en dier!

Soos die lote geanker en geheg aan die Wingerdstok so is die lewe van die skepsel van God se hand.

So is ook die lewe van God se kind. Geanker in Hom ervaar ons die seisoene. Ons buig soms laag saam met die wind. Soms sluk ons aan droë sand en stof wat ons na ons asems laat snak. Met oomblikke ervaar ons ‘n seisoen van warmte en met tye ervaar ons ‘n seisoen van net “wees” Diep geanker in die Ware Wingerdstok verloor ons soms ons blare in die wind net om weer hoop te mag herwin op n nuwe lewe wat sal vorm en groei. Die dikke pels en serp kom God soms met ongekende manier stadig laag vir laag verwyder hand wat seisoen beheer. Daar is geen lewe sonder God nie. Geen groei en geen Hoop. Die slenter-sleep-bedelaar se hoop op guns by medemens is leeg as God nie die hart van sy naaste aanraak en die Gees van God nie oor hul gaan nie. Die skaterlag van ‘n kind stil as daar nie ‘n anker is in die Vreugdevolle God van Sonskyn en vergenoegdheid. Sonder God kan die saad nie ontkiem en die duif nie ‘n plek vind om haar voet om boomtak te klou nie. Sonder die ontkieming van die lemoenbloeisel sal geen bejaarde ‘n vitamienryke vrug in hul hand kan hou nie. Geanker in God stel Hy ons instaat om vrug te dra. Geanker in die Ware Wynstok sal ons geestelik groei.In ‘n Heilige Verbintenis met God sal ons wees soos ‘n loot wat groei en vrug sal dra deur elke seisoen, deur winterkou en oggenddou, deur sonskyn en reën, deur boomtakhoogte-momente en deur koue verwerpte weggooi oomblikke op die grens van die lewensrand soos ‘n klein katjie snoesig stert oor neus, al dreig die gevaar en sien ons nie die hoop, sal ons in ‘n heilige verbintenis met God elke storm van die lewe hoe fel ook die wind, standvastig in die Here bly groei en vrugte dra! Gaan en wees dan lote van die Ware Wingerdstok. Standvastig, in heilige verbintenis met God! Wees die vrug en wees die vreugde en wees die Kind van God soos Hy vir jou beplan.Amen.

Amen.

Tersia Engelbrecht

 
 
 

Comentarios


  • facebook

Follow

011 837 9770

Contact

Address

41 / 43 Putney Road Brixton South Africa 2019

©2017 This website is managed by Brixton Church

bottom of page