top of page

GELOOF VIR DIE ONBEKENDE


Die lewe loop soms snaakse draaie met ons en ons kry nie altyd behoorlik tyd om rustig te sit en na te dink oor die hoekoms en waaroms nie.

In my eie lewe is dit nou nog party dae vreemd om te dink dat ek - van alle mense - vir die kerk werk en boonop sekretariële werk doen. As ek dink ek het al die jare voet by stuk gehou dat ek glad nie een vir administrasie is nie. Om dit nog vreemder te maak, is daar die afgelope paar maande ‘n addisionele kinkel in die kabel bygelas. Soos meeste reeds bewus is, is ek Juniemaand deur die Greymont gemeente genader om ook hulle saakgelastigde te wees. Dit het ‘n paar veranderinge in my kantoorure by ons gemeente veroorsaak en persoonlik moes ek ’n paar aanpassings aan my dag maak.

As ek vandag ’n tydjie neem om na te dink oor hierdie wendings moet ek erken dat ek glad nie is waar ek myself ongeveer 10 jaar terug voorgestel het om te wees nie. Ek moet verder erken dat ek nooit uit eie oorweging hierdie pad sou stap nie. Ek was ingewortel in ’n lewe van belasting doen en sou dit doen tot in my grysheid. Dis erg vervelig, ek weet.

Vandag is ek dankbaar dat lewensbesluite nie uitsluitlik in ons as mense se hande is nie. As ek my paadjie tot hier toe bekyk was daar moeilike besluite wat geneem moes word langs die pad en as dit van my afgehang het, het ek driekwart van hulle negatief beantwoord.

Gelukkig vir ons is ons lewens in die hand van ‘n liefdevolle God wat ons lewens haarfyn beplan het. Al skop ons daarteen en al neem ons afdraaipaaie kom ons uiteindelik tog op die pad wat Hy ingedagte gehad het. Ons moet net leer om oor te gee. Dis ‘n geloofspad wat ons op paaie neem wat opwindend, uitdagend en meestal totaal onbekend is.

Hierdie paaie leer ons vertroue in God. Vertroue is moeilik, baie moeilik. Ons vertroue word daagliks deur mense geskend en ons sukkel om nie ons wantroue oor te dra na God nie. Ons vertroue strek meestal net sover as wat ons die volgende stap of drie kan beplan en beheer. As ons nie op ons eie insigte kan staatmaak nie sukkel ons om die oorgawe te maak.

Geloof is sinoniem met vertroue in God wat reeds alles weet. Vertroue in ons Vader wat net die beste vir ons wil hê. Vertroue in Jesus wat langs ons is en die pad saam met ons stap. Vertroue in die Heilige Gees dat ons Sy influistering kan navolg sonder enige twyfel.

Ek wil jou nooi om oor te gee in geloof. Om te vertrou dat die onbekende weë tot jou voordeel is. Om te weet dat jou eie idees van hoe jou lewe moet wees nie noodwendig die finale bestemming is nie. Ons Vader het altyd net die beste vir ons ingedagte en soms vra dit dat ons rigting verander.

Richard Rohr skryf in sy boek, The Divine Dance, “Faith does not need to push the river because faith is able to trust that there is a river. The river is flowing. We are in it.”

Mag jy die vloei van die rivier in jou lewe aanvaar en ontspan in die wete dat God reeds weet waarheen die rivier vloei.

Liefde in Christus

 
 
 

Comments


  • facebook

Follow

011 837 9770

Contact

Address

41 / 43 Putney Road Brixton South Africa 2019

©2017 This website is managed by Brixton Church

bottom of page