DIE VREDE VAN GOD
- Tersia Engelbrecht
- Oct 18, 2018
- 6 min read

WERKLIKHEID vs PERSEPSIES EN AFLEIDINGS EN AANNAMES
Niks wat werklik is, kan bedreig word nie!
Niks wat onwerklik is, bestaan nie!
Hierin lê die vrede van God.
Daar lê so ’n groot bevryding opgesluit in die onderskeiding tussen werklikheid en onwerklikheid. So ook in kennis en persepsie. Die waarheid word onderhou deur die wet van liefde (of die wet van God). Hierdie kennis is onveranderlik en nie dubbelsinnig nie. Mense kan dit dalk miskyk of daarby verby wil leef, maar die skepping herinner ons dat alles wat bestaan van God afkom en deur Hom onderhou word. God se waarheid gaan alle verstand te bowe en lê baie keer ver buite die begrip van enige wetenskaplike prosesse, teorieë of is selfs buite die tydsraamwerk van die mens.
Ons as mense skep van ons kant af ‘n wêreld van persepsie. Wat ’n groot sondebok in ons samelewing en tyd! “Persepsie”! Persepsie skep ’n wêreld van tyd en ’n wêreld van verandering wat nie noodwendig op feite of die waarheid baseer word nie. Dit sluit die lewenssiklus van denke rondom dood en geboorte in. Ons persepsie is dat iemand op ’n sekere dag gebore mag of kan word, maar dit is eintlik God wat dit bepaal. Soms maak mense afleidings voortspruitend uit ’n persepsie van skaarste of vanweë verliese of skeidings.
Waar kom gedagtes vandaan? Hoe word dit gevorm? Sonder God sou geen enkele gedagte moontlik gewees het nie. Kennis kan nie bestaan sonder God nie. God en Sy skepping deel een doel. Teenoor die werklikheid staan persepsie wat gegrond is op die afleiding dat teenoorgesteldes nie kan bestaan nie. Daar is ’n ewigdurende tweespalk en konflik in die wêrelde met mekaar en ook met God, maar in God se skepping is daar ‘n inherente konstante liefdesvloei. Die gevaar is dat persepsie ‘n werklikheid skep wat nie op die waarheid gegrond is nie en nie rekening hou met die konstante liefdesvloei in God se skepping nie. Verkeerde afleidings kan veroorsaak dat mense vasgevang word in ’n wêreld van illusie en dit veroorsaak pyn omdat dit nie nie in God se waarheid berus nie. God se werklikhede is konstant, gevestig en altyd vol vrede!
Persepsie kan ‘n mens gevange hou in ’n droomwêreld. Die konstante verkeerde afleidings wat ons oor die werklikhede maak kan baie maklik en vinnig ons lewensvreugde demp en ons as soekende en ongelukkige persone sonder vrede in die lewe laat. Om van hierdie gevangenis te ontsnap is daar maar net Een ware, opregte en eerlike Persoon wat kan genader word om hulp. Dit is die stem van die Heilige Gees en hoe doen ons dit? Deur gebed. Deur ’n verhouding met God! Ons moet die Heilige Gees innooi of dalk eerder geleentheid bied om as ons bemiddelaar op te tree tussen werklikhede en onwerklikedeware feite en persepsies of afleidings.
Die Heilige Gees ken ons illusies en weet ook wat die waarheid is omdat Hy niks anders as die Waarheid is nie! Hy is die Vrede! Hy is die Waarheid! Sy doel is om ons te bevry van ons droomwêrelde en ons denke te verander sodat ons ons foute kan erken en volgens God se waarheid en vrede kan lewe.
Die Heilige Gees wil ons begelei tot ’n lewe van vrede wat tot vergifnis lei. Alleen vergifnis kan en sal ‘n ommekeer in ons denke en handelinge bring wat gebaseer is op onwerklikhede. Mense wat vergifnis ontvang het, leef in God se genade. Foutiewe persepsies hou ons vasgevang terwyl vergifnis ons bevry. Ons word in staat gestel om die Here Jesus in ander se oë te kan sien. Die werklikheid van God se vrede en Sy genade en Sy liefde waarna almal voortdurend na streef. Vergifnis maak ons vry en die Heilige Gees help ons om onsself te aanvaar en lief te hê.
Dit is so interessant om te weet dat die wêreld wat ons sien en beleef en glo as ons eie, eintlik maar net ’n weerspieëling is van ons eie innerlike verwysingsraamwerk. Mens kyk altyd eers na binne en neem dan ’n besluit watter soort wêreld ons buite wil raaksien. Die vrede teenoor die chaos. Wat nog meer interessant is, is die feit dat as ons persepsie gebruik om ons eie foute te verdedig en te regverdig, kan ons nie anders as om ’n wêreld van boosheid, verwoesting, kwaadwilligheid, jaloesie en ergste van alles wanhoop te sien nie en ook aan te wakker. Waarom moet ons dan die Heilige Gees innooi om ons te help om te vergewe en vergifnis te ontvang? Omdat vergifnis vrymaak! Omdat Vergifnis ons die werklikheid laat sien! Ons moet leer om te vergewe, nie omdat ons so “goed” en so “lief” is nie, maar omdat ons nodig het om vrede van God te ontvang. Ons wêrelde bestaan uit verwronge verdedigingsmeganismes, verdraaid, en daarom sien ons meeste van die tyd slegs dit wat ons wil sien en wat nie werklik is nie. Selfs ons liefde vir onsself is deur persepsie en afleidings van ander se optrede teenoor ons verdraaid en verwronge en kan slegs herstel word en genees word deur dit weer deur die stem van die Heilige Gees te laat lei en rig.
Wat anders is die resultaat van sonde as ’n uiterste gebrek aan liefde! Die Heilige Gees sien liefde! Hy leef liefde! Hy is liefde en daarom is sonde iets wat gekorrigeer moet word. Al ooit gedink waar kom ons gevoel van ontoereikendheid, swakheid en onvolledigheid vandaan? Dit spruit sterk uit die belegging wat ons self onbewustelik-bewustelik gemaak het in die “skaarste beginsel” wat weer op sy eie ’n hele gros van dinge aanwakker gegrond op illusies en vandaar regeer.
Vanuit daardie oogpunt soek ons onophoudelik en met intensiteit en passie en ondempbare doelgerigtheid in ons gees na dit wat ons in kortskiet, in ander, hetsy dan aanvaarding, hoop, genade, insig en of meeste van alles na liefde! Ons as mens sal selfs so ver gaan om iemand anders “lief” te hê om self iets daaruit te kry. Hierdie is ons droomwêreld van persepsies en afleidings en aannames. Een van die grootste foute wat ons in denke kan begaan, is om so te dink, want die werklikheid is dat liefde nie instaat is om enigiets te vra nie. Liefde gee! Liefde is onbaatsugtig! Liefde verbind! Liefde kan mens nie van God skei nie! Liefde lei tot eenheid! Liefde is konstant. Dit blaas nie eendag warm en ’n anderdag koud nie! Liefde is nie afstandelik en klinies en koud nie. Liefde is nie eendag so en anderdag so nie! Liefde is nie gebaseer op uiterlike nie. Liefde draai nie die rug nie. Liefde speel nie een teen die ander af nie. Liefde is inklusief! Liefde is om die werklikhede van die onwerklikhede te kan onderskei deur God se bril aan te trek. God die Vader het vir Jesus Christus, Sy Seun na die wêreld gestuur om LIEFDE ’n werklikheid te kom maak vir ons! ’n Werklikheid wat vrymaak! ’n Werklikheid wat verlos! ’n Werklikheid wat nooit eie-belang eerste gestel het nie. ’n Werklikheid wat ingesteld is op verhoudings! ’n Werklikheid wat herstel en genees en aantrek tot teen die Vader se hart! My gebed is dat die God van werklikheid, die God van liefde en die God van konstante ewige vrede ons sal bywees en ons sal bevry deur die werking van die sagte en moederlike stem van die Heilige Gees. Dat ons nie net ons eie selfbeeld en identiteit in God sal hervind nie, maar dat ons in die tydruimte van die werklike liefdevolle God inbeweeg en uit sal reik na hulle om ons wat onder ons persepsies en ons afleidings en ons eie aannames gebuk staan, en of dalk gekwets, ge-etiketteer en of gewond is of selfs emosioneel wipplank ry. Dat ons die stem van die Heilige Gees sal volg en die onwerklike, die “droom-illusies” en persepsies wat ons leef sal oopmaak, teenoor mekaar erken en ontsmet deur in God se vrede en braafheid dit met mekaar uit te praat. Dat ons bevryding sal vind deur die genesende fontein van ewige vloeiende liefde van die God van werklikhede. Die God wat liefde en aanvaarding en bemindheid en vrede in en deur ons bewerkstellig. Kom ons leef in nie in ’n vakuum van geslotenheid en skaarsheid nie, maar in die genesende oorvloed van liefde en werklikheid waarna ons almal smag! Die God van werklikhede en die God van vrede is en sal altyd by ons wees!
Amen.
Tersia Engelbrecht
Comments