LIEFDE – PUNT!
- Margaret Halgryn
- Feb 5, 2019
- 3 min read

Ek dink baie daaroor na dat mense redelik veroordelend kan wees. Ons het onsself die reg toegeëien om ander te oordeel op grond van hul geloof, hul seksualiteit, hul velkleur, hul oortuigings en vele ander dinge waaroor ek boeke vol kan skryf.
As Christene is ons veronderstel om die oordeel aan God oor te laat, maar ai, ons faal tog so liederlik daarin. Ons het die kuns vervolmaak om te sê “ek oordeel nie, maar ......”. Meeste van ons kan vinnig ‘n klip optel en slinger dat hy doer trek, sonder om aan die nagevolge van daardie gooi te dink. Net omdat iemand anders lyk of dink eien ons onsself die reg toe om te oordeel oor wie of wat hulle regtig is.
Ons besluit soms ook of hulle verhouding met ander en ook met God ‘n werklikheid is. Dis so maklik om in die slaggat te trap. Ons besluit namens mense wat die stand van hulle verhoudings is. As dit nie aan ons vooropgestelde idees voldoen nie, word dit afgemaak as nonsens. Hoeveel keer het ons nie al mense geoordeel omdat hulle anders dink oor geloof as ons nie.
Is ons nie veronderstel om meer verdraagsaam te wees nie? Is ons nie veronderstel om eers die werklike toedrag vas te stel voor ons afleidings maak nie. Is dit nie ons plig om eerstens liefde te leef nie? Liefde is immers nie veroordelend nie. Liefde is nie uitsluitend nie. Liefde breek nie af nie. Liefde reik uit. Liefde bemoedig. Liefde bou op. Liefde gee ruimte. Liefde probeer verstaan. Liefde maak dat ons nie oordeel op grond van ons persepsie nie. Liefde gee ons die vryheid om ander te aanvaar soos hulle is.
Jesus het liefde geleef. Hy het die onwaarskynlikes nadergetrek in liefde. Hy het die “grootste” sondaars bemoedig en saamgenooi om die lewe saam met Hom te ervaar. Hy het nie eenkeer iemand veroordeel op grond van vooroordele nie. Hy het vername persone sowel as die onbeduidende persone almal in liefde nadergetrek.
Die vraag is dus: wat gee ons die reg om ander te oordeel? Waar kry ons die idee dat ons ‘n ander se pad mag beoordeel as ons nie die feite 100% ken nie? Hoe weet ek en jy wat in ‘n ander se hart / lewe aangaan tensy ons werklik navraag gedoen het en ons vergewis het van die feite?
Om werklik liefde te leef is moeilik. Ons sukkel daarmee. Ons het soveel genade nodig en ons moet soveel meer genade leef teenoor ander, maar ook onsself.
Ek wil graag jou laat met hierdie woorde:
“How can we understand that the true power, the real power, perhaps the only power we have is love? Love correcting everything that stands against love. And how can we dissolve the structures, and boxes, and alliances, and tests that make us feel safe when in fact they just imprison us to a past that, for me, was not the good old days.
I’m inviting us to be seekers in the wilderness, to be allies in the wilderness, to be shaped and honed in the wilderness so that when we get to the other side we will find together – create together – a promised land of Love.
This is the HUMAN project. It is not a Christian project. It is not a Jewish project or a Muslim project. It is what we are called to do because we are people whose true identity is Child of God.”
Dr. Jacqui Lewis.
Mag ons in hierdie jaar liefde leef.
Mag ons ons roeping as Kind van God uitleef.
Mag ons elke dag in die teenwoordigheid van die Drie-Enige God liefde ervaar en uitleef.
Comments