WANNEER DIE KRAAIE BROOD & VLEIS BRING!
- Tersia Engelbrecht
- Feb 5, 2019
- 7 min read

Die verhaal word vertel van ‘n man wat Woord van God gekry het om homself te gaan wegsteek. ‘n Man wat in totaliteit God blindelings vertrou het. ‘n Man wat vir sy daaglikse water van God afhanklik sou wees. ‘n Man vir wie God die kraaie tot diens geroep het om aan hom voedsel te bring. Soggens met sonsopkoms het die kraaie aan hom vleis en brood gebring. Sy dors kon hy in oormaat les vanuit die kritspruit en met sonsondergang was die kraaie die afleweraars van brood en vleis in opdrag van God! Die goeie was vanuit God se hand nie van hom weerhou nie. God het elkedag voorsien. Toe die spruit opdroog het God se roepstem weer tot Elia gekom en hom verder op sy lewenspad gestuur na ‘n weduwee in Sidon. God het reeds voorsien. HY het in die hart van die arm weduwee inspraak gelewer vir die man van Tisbet wat sy in gasvryheid moes ontvang en voed. In getroue gehoorsaamheid aan God vertrek hy na Sidon en vind by die poort van die stad ‘n weduwee wat besig was om houtjies op te tel om voorsorg te tref vir die vuur waarop sy die laaste maal vir haar en haar seuntjie sou gaarmaak. ‘n Maal van raap en skraap. ‘n Maal wat sy moes vindingryk skep uit ‘n handjie meel en klein bietjie olie wat oor was in haar erdekan en nog ekstra, vir ‘n vreemdeling ook moes bied om te eet. Elia vertrou die Here. Hy gehoorsaam Sy opdrag. Hy merk haar ywerige tog mismoedige-optel van die houtjies en roep haar om te vra vir ‘n beker met water om te drink. Sonder ‘n woord van redenering of redekaweling stap die vrou om vir die vreemdeling in die stadspoort water te gaan haal. Elia laat dit nie daar en eis nog ‘n verdere. Hy roep uit die stadspoort en vra dat sy asseblief ook vir hom ‘n stukkie brood sal bring. In my geestesoog sien ek hoe die vrou rooi-skaam verlee haar kop in moedeloosheid laat sak en aan die vreemdeling sê dat sy nie meer brood in haar huis het nie, maar net ‘n enkele hand vol meel en ‘n klein bietjie olie in haar erdekan waarmee sy vir haar en haar seuntjie daardie aand van kos moes voorsien. En dan volg haar woorde…. “daarna moet ons maar doodgaan…” Daar is in haar denke van moontlike uitkomste, geen hoop, want die einde van die voorraad en voorsiening het in haar gedagtes getol. Haar geestelike vryheid is ingeperk! Sy vergeet dat God altyd voorsien! Ook vir haar in haar sukkel het God haar nog nooit alleen gelaat. Elia, hoor…Elia, eis nog verder. God het vir Elia gestuur. Elia bly getrou! Elia ervaar geestelike vryheid in God! Elia weet wat sy identiteit is in die God van seen en voorsiening!
Elia bied aan haar ‘n woord van ondersteuning en belofte ….Hy vra dat sy nie moet kommer, en direk daarna stel hy ‘n volgende eis aan die weduwee… “Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my ‘n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg”….en dan die wonderlikste belofte… “So sê die Here God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”
~ ~ ~ ~ ~ ~
Wat ‘n bevryding! God se belofte van ewige voorsiening. God se vryheid en seen!
Ons het moontlik vining oor die belofte, deur Elia, vanaf God aan die weduwee gelees, maar kom ons kyk na wat die Olie alles simboliseer. Olie was destyds geoes vanaf die vrug van die Olyfboom. Olie was gebruik tydens etes (Eseg. 16:13); vir aansmeer (Deut.28:40) en gebruik van medisinale doeleindes (Jes.1:6); vir olie in lampe (Eks.25:6). Dit was ook ‘n handels-en ruilmiddel met ‘n kommoditeitswaarde (1 Kon 5:11) en was verder ook as deel van sekere offers (Lev.7:10) gebruik. Priesters (Eks.29:7) en konings (2 Sam 2:4) was daarmee gesalf. Die vetterigheid (Rig.9:9) van die olie was ‘n aanduiding van God se goedgunstigheid (Ps.65:11) oor land, mens en ook oor die dier. In Jes.10:27 word dit simbolies gebruik om aan te dui dat dit gebondenheid verbreek. Die simboliek word oorgedra (Rom 11:17) tot die Nuwe Testament wanneer daar oor die komende Messias geprofeteer word, deurdat sy onderskeidende kenmerk is dat Hy deur salwing sy outoriteitsposisie inneem. Het die weduwee moontlik ervaar dat sy aan die einde van alles gekom het en die “olie” in haar erdekan vir altyd opgaan droog? God se belofte reik wyd en ver oor ons lewe. In elke aspek van ons lewe sal voorsien word. Daar sal nooit ‘n tekort wees aan Sy troue sorg. Hy bied versorging op elke terrein van ons lewe. Hy bied ook vryheid en bevryding van dit wat ons terug hou in die lewe. Geestelike vryheid gee ook innerlike vryheid, ‘n vryheid van verstand en hart. Vryheid in God laat ons ook met ‘n besliste en sekere wete van wie ons is, ons ken ook al ons gawes en beperkinge en is gemaklik met hul want ons weet wie ons in Jesus is. Ons is geestelik geroep toe vryheid in God! Het die weduwee moontlik haar geestelike vryheid verloor agv die tekorte en ongemak van die hier en nou?
Tog is daar talle dinge in ons lewe net soos die weduwee se lewe wat ons in ons geestelike vryheid inperk. Dit veroorsaak dat ons nie so duidelik soos Elia, God se roepstem kan hoor nie. Ons vrese, ons gierigheid, ons behoefte om in beheer te wees, ander te manipuleer, perfeksionisties te wees, jaloers te wees, onnodig aan onsself te twyfel en ons eie vooroordele en afleidings oor onsself en ander veroorsaak dat ons geestelike vryheid ingeperk word. Ons eie materialistiese tekorte laat ons twyfel aan ons vermoee en gawes met tye. Dit verhinder ons in ons geestelike groei en hou ons vas in die greep van vreugdestelende diewe. Dit verhinder ons verder om God en ons naaste lief te he soos wat ons behoort lief te he. Vanuit die inperkende posisie neem ons besluite wat ons dan baseer vanuit wanpersepsie en leef ‘n lewe wat nie in oorvloed van God se vryheid is nie.
Ons maak die houtjies vir die vuur bymekaar, maar ons beperk onsself deur ons visie nie te verskuif na die salwing en seen wat God oor ons uitgestort het om vry te mag wees in Hom nie. Ons vergeet dat God enige iets of iemand oor ons pad kan stuur om te voorsien in ons behoeftes. Ja, (lag) Hy gebruik selfs die onwilliges om in Sy plan van voorsiening uitkoms te bied. Ons kies so maklik die “meel” en die “olie” waaraan ons nie kan vashou. Ons raak gebonde aan plekke, materiële besittings, ons titels en beroepe en meer as belangrik, wat ander van ons dink en of dit of dat hul goedkeuring wegdra. Ons vergeet in ons inperking dat God onbeperk is. Dat God selfs die kraaie van die hemele kan gebruik om aan ons te voorsien en ons weer te herstel tot geestelike vryheid in Hom.
Om verliese te lei is vir geen een van ons maklik nie. Wanneer jou lewe begin leegloop en jou behoeftes aan lewensnoodsaaklikhede so ingeperk begin word en jy moedeloos en sonder heenkome neerval voor Hom op jou kniee in aanbidding en smeking, dan is dit sekerlik een van die tye wanneer ons perspektief en fokus weer opnuut gerig sal word tot God! God laat ons nooit in die steek nie! God bied eerder vryheid as wat Hy ons inperk! Vriende om ons kan ons soms in ongemakliker posisies plaas deur nog meer te eis al is ons nood so hoog! Soos Elia, gestuur deur God, in sy eie hoop op voorsiening en beskerming is ons genoodsaak om te fokus op die geestelike vryheid wat God bied. Die “Olie” wat Hy bied vir elke situasie en gebeurtenis in ons lewe en ook in welke vorm Hy dit sal voorsien. Hetsy dit vanuit die natuur is, reën, ‘n goeie oes, ‘n vreemdeling in jou stadspoort, ‘n weldoener wat hand uitreik of ‘n persoon wat sonder voorbehoud altyd hand vat en intree in gebed en opbou aan jou identeit en die goeie wat God in jou gebou het. Daar sal altyd iemand oor jou pad kom, maak nie saak wie, God voorsien selfs deur die “kraaie” van die lewe. Ons mag nie toelaat dat God as kern uit ons lewe geforseer word en al die tekorte ons identiteit vorm en beskryf nie. Dit is nie geestelike vryheid nie!
Die weduwee het gedoen. Sy het gegee. Sy het die ware God gesien wat in Elia gewoon het.
Jesus het gekom sodat ons werklik vry kan wees. Jesus het gekom sodat God weer die regmatige plek in mense se lewens kan inneem en al hierdie geestelike inperkinge en beperkinge of uit die weg geruim kan word, of hulle in plek gestel kan word. Wanneer jou “meel” en jou “olie” in die erdekan van die lewe so min geraak het en jy geen heenkome het en geen voedsel op jou geestelike tafel of etenstafel, kyk op! kom na Jesus wat weer vir jou in geestelike vryheid, innerlik sal versterk op alle terreine van jou lewe en jou sal seen met die mees onverwagste persoon of gebeure om weer jou identiteit en geestelike vryheid in Hom te herstel.
God sal die “olie en meel” nooit vir jou laat opdroog! “Kraaie van die hemele” sal Hy indiens stel om aan jou, Sy lieflingskind “brood en vleis” te gee en te gee in oorvloed tot eer van Sy Vader!
GEBED:
Mag die Here van die lewe en dood jou vashou in die goeie en jou seen met genade en daaglikse brood!
Mag Hy die God wat geen heenkome gehad het en geen plek om Sy hoof neer te lê vir jou voorsien in ‘n tuiste van innerlike vrede en warmte.
Mag die Jesus wat verwerp was en gereken was as een wat met sondaars omgaan, jou ontmoet, jou optel op Sy Vaderskoot, jou sag oor die voorkop streel, jou versterk,
jou voed en jou vir ewig verwelkom in Sy hart.
Mag die Gees van God by jou woon en jou versorg en vertroetel met daaglikse brood!
Σχόλια