top of page

Dankbaarheid




Daar is soms so baie om voor dankbaar te wees, dat ons dit miskyk. Ons leef verby dit. Ons aanvaar dinge as vanselfsprekend. Eintlik is ons veronderstel om heeldag in totale verwondering te loop oor dit wat met ons gebeur. Ons monde moet letterlik oophang van verwondering.


Nee, ek leef regtig nie in ‘n Utopiese wêreld as ek dit sê nie. Inteendeel leef ek en jy in ‘n wêreld wat bitter ver verwyderd is van enige vorm van Utopia. Ons leefwêreld bestaan 90% van die tyd uit negatiewe, geweldadige dinge. Die oorblywende 10% is gelukkiger, maar nie noodwendig ‘n oorweldigende, uitbundige tyd van vreugde nie.


Dan is dit nodig om soms tot stilstand te kom, ons gedagtes te orden, ons oë wyd oop te maak en doelbewus te fokus op die mooi en die goed. Dink bietjie na oor dit wat goed was in die halfuur voordat jy hier begin lees het. Ek is seker jy sal ten minste een of twee dinge kan noem wat jou laat glimlag uit dankbaarheid.


Ons moet soms moeite doen om die klein dingetjies raak te sien waarvoor ons dankbaar kan wees. Soms moet ons moeite doen om selfs die groot dinge raak te sien wat ons tot dankbaarheid kan stem.


Dan is daar dae wat ons eenvoudig dankbaar moet wees juis omdat ons besig is, of omdat ons dae van absolute rustigheid beleef. Ons dankbaarheid moet alle ander gevoelens oorheers.


Paulus het in sy brief aan die mense van Tessalonika dit duidelik uitgespel. “Wees in alle omstandighede dankbaar.” (1 Tess. 5:18a). Die rede vir ons dankbaarheid word in die tweede gedeelte van die vers verwoord: “...want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” (1 Tess.5:18b).


Dankbaarheid is nie sommer net vir as ons daarna sou voel nie. Dit is nie net as ons gekry het wat ons wou gehad het nie. Dankbaarheid is ook vir moeilike, uitdagende tye. Daardie tye wanneer ons wil opgee en in ‘n hoek gaan sit en jammer voel vir onsself. Dit is dan wanneer dankbaarheid juis die sterkste na vore moet kom.


Dankbaarheid in alle omstandighede is nie altyd maklik nie, maar dit is beslis moontlik. Ons moet dalk so paar lesse by Paulus neem. Hy het nie hierdie woorde geskryf terwyl hy in weelde geleef het nie. Inteendeel, hy was in die tronk. Ten spyte van sy omstandighede het hy rede gevind om selfs daar dankbaar te wees.


Ons het soveel meer om voor dankbaar te wees, al is daar verskeie terugslae in ons lewens. Ons God het immers beloof om ons nooit te verlaat nie. Jesus Christus het die dood oorwin sodat ons kan lewe en vry kan wees. Hy het Sy Gees gestuur om in ons te wees sodat ons altyd kan weet Hy loop saam met ons waar ons ookal gaan.


Kom ons daag onsself daagliks uit om redes tot dankbaarheid te vind, selfs in die negatiewe en ondraaglike tye.


Mag ons in alle omstandighede dankbaarheid ontdek wat alle verstand te bowe gaan.

Kommentare


  • facebook

Follow

011 837 9770

Contact

Address

41 / 43 Putney Road Brixton South Africa 2019

©2017 This website is managed by Brixton Church

bottom of page