PARAKLEET
- Ds. Hennie van Rooyen
- Jul 3, 2019
- 1 min read

Parakleet is ’n woord wat net in Johannes se geskrifte voorkom, en dit word gebruik vir sowel Jesus as die Heilige Gees. Die term is regstegnies van aard en word vertaal met begrippe soos “advokaat” en “voorspraak”, maar soms ook met “vermaner” en “trooster”. In die Johannes-Evangelie word dit veral vir die Heilige Gees gebruik: Die Vader sal op die Seun se versoek die Heilige Gees as Parakleet stuur om met en in die dissipels te bly (Joh. 14:26). Die Heilige Gees se taak sal dan wees om by hulle as’t ware as voorspraak vir Jesus op te tree. Jesus se vertrek is die voorwaarde vir die Gees se koms. As Gees van die waarheid, sal Hy van Jesus getuig en leer, aan Hom herinner en Hom verheerlik. Hy sal ook die wêreld oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel. Die Parakleet vervul dus by Jesus se vertrek in ’n bepaalde sin die funksie van trooster ten opsigte van die gelowiges, en van vermaner ten opsigte van die wêreld. In 1 Joh. 2:1 word Jesus ook sélf die Parakleet genoem. Hy doen immers self vir gelowiges voorspraak by die Vader. Hy kan dit doen want Hy is die regverdige, “die versoening vir die sondes van die hele wêreld”.
Comments