top of page

DIE ALOMTEENWOORDIGE GOD


Dit is die einde van 2019 en die oorgrote meerderheid van ons is uitgeput na ‘n lang, moeisame jaar. Ons kan doen met ‘n blaaskans om net weer tot stilstand te kom en ‘n bestekopname te doen van die jaar wat verby is.


Daar was goeie tye waar ons fees gevier het en daar was die hartseertye waar ons geliefdes moes groet. Die daaglikse uitdagings om in moeilike ekonomiese tye kop bo water te hou het ons almal maar bietjie wakker gehou. Die politieke woelinge het ons of laat lag of ons woedend gehad.


Maar, nou staan ons aan die einde van die jaar en ons kan tog terugkyk met dankbaarheid. Ons het dit oorleef. Dit was geen piekniek nie, maar dit was tog die moeite werd. Ons het nuwe dinge ervaar en geleer. Ons het nuwe mense ontmoet en verwelkom. Ons het meer van onsself geleer. Ons het nuwe uitkomste gesoek vir ou probleme. Ons het sterker geword. Ons het hopelik wyser geword en ons het opnuut geleer waar ons geanker is.


Ek dink dit is seker die belangrikste les wat ons die jaar net weer kon ervaar en leer - waar ons geanker is. Jy sal met my saamstem dat as ons nie God as anker gehad het nie, het ons handdoek ingegooi en onsself baie jammer gekry.


God is die enigste konstante verhouding in hierdie warboel wat ons die lewe noem. As dit goed gaan, is Hy daar. As dit sleg gaan, is Hy steeds daar. As ons opgewonde is, is Hy daar. As ons treur, is Hy daar. Ek kan nog honderde situasies uitlig waar God altyd daar is. Teenwoordig is. Die stryd vir ons stry. Die uitkoms gee. Die engele oor ons pad stuur. Ons hoef nooit te wonder nie. Ons kan net ontspan in die teenwoordigheid van God.


God het jare gelede ‘n tasbare bewys van Sy alomteenwoordigheid aarde toe gestuur. Nie slegs om teenwoordig te wees nie, maar as redding vir ons. Ons staan na meer as 2000 jaar steeds in afwagting vir die herdenking van Jesus se koms na hierdie aarde toe. Die Kind wat gebore is, is elke jaar wat verbygaan steeds ‘n fenomeen wat ons nie noodwendig kan verklaar nie. En ons hoef ook nie. Ons hoef nie te wonder hoekom is ons so gelukkig nie. Ons kan eenvoudig die grootse geskenk aanvaar.


Ons kan God daagliks dank vir genade wat ons jaar in en jaar uit dra en omvou en beskerm. Selfs die onverstaanbare dinge is ingesluit in Sy genade. Sy liefde het geen perke nie. Al wat ek en jy kan doen in die lig van hierdie genade is om vas te hou aan hierdie konstante verhouding. Vas te hou aan hierdie allesoorheersende liefde. Vas te klou aan hierdie alomteenwoordige God.


In hierdie Kerstyd wens ek vir jou die vrede, liefde en alomteenwoordigheid van God toe. Mag die Jesus-kind vir jou alles wees wat Jesaja destyds geprofeteer het:

Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee. Hy sal die heerser wees met die koninklike titels: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.Sy heerskappy en vrede sal voortdurend uitbrei en nooit ophou nie. Vanaf die troon waarop sy voorouer Dawid gesit het, sal Hy vir altyd regverdig en reg regeer. Die toewyding van die Here, die Almagtige, sal dit waarborg.

(Jesaja 9:5-6 NLV)

Comments


  • facebook

Follow

011 837 9770

Contact

Address

41 / 43 Putney Road Brixton South Africa 2019

©2017 This website is managed by Brixton Church

bottom of page