KERSFEES: GOD SE OOP HART EN HAND DEUR ONS
- Ds. Hennie van Rooyen
- Dec 19, 2019
- 2 min read

Paulus groet telkens die gelowiges in sy briewe aan die Romeine, Korinthiërs, Galasiërs, Efesiërs, Filippense, Kolossense, Tessalonisense, Timoteus, Titus en Filemon met die seën: “Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!” Dit is ʼn gebed en ʼn wens wat sy hoorders in die ruimte van God se oop hart en hand wil plaas.
Met Kersfees het God sigbaar geword in Jesus Christus deur sy genade en vrede. Die wêreld het daarvan gehoor en soek na Hom. Mense vra van ons wat Jesus bely, waar God dan is, en waar genade en vrede gevind kan word. Kan ons vir hulle meer wys as net maar ons kerkgebou, Bybelstudiegroepe, bidure, kerkstrukture, ens. Kan ons vir hulle sê: “Kyk maar na my lewe en julle sal God se oop hart en hand van genade en vrede sien. Deur sy Heilige Gees het God in my lewe vlees geword. Kyk, die Immanuel is hier by my.” Kan ons na ons lewens verwys as iemand sou vra: “Waar is die God wat met Kersfees na die aarde toe gekom het?”
Om in die oop ruimte van die Immanuel van Kersfees se hart en hand te lewe beteken dat ons mure tussen mense afbreek en versoening bring. Paulus sê dit in Efesiërs 2 vers 14-22: “Christus het inderdaad vrede tussen ons gebring. Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het… Hy het vrede gebring deur in Homself die twee groepe tot een nuwe mensheid te omskep.” Verder word ons genadig en leef ons in vrede met mekaar en ander. Ons weet hoeveel dit God gekos het om ons te vergewe en daarom kan ons vergifnis aan ander bied. Dan leef ons volgens ons eie gebede waarin ons vir God gevra het om genadig en vredevol teenoor ons te wees sodat ons genadig en barmhartig teenoor ander kan wees. Die oop hand en hart van God in Jesus laat ons glo dat vrede moontlik is en alle verstand te bowe gaan. Vrede is dan nie maar net ʼn teorie nie, maar iets wat ek prakties doen, ʼn manier van lewe.
Kersfees beteken dat God met sy genade en vrede in jou en my wil kom woon en daarom is my wens vir jou: Mag jy geseënd wees! Mag die genade van die Vader, die liefde van Christus en die nabyheid van die Trooster jou in hierdie Kersgety en in 2020 vol vrede maak.
Comments