top of page

Lydenstyd: Volg Jesus


Filippense 2:6-11 was ’n ou Christelike loflied en was heel moontlik aan die Filippense bekend gewees. Wanneer Paulus hulle wil wys wat nederigheid beteken, herinner hy hulle aan dit wat hulle oor Jesus se selfverloëning sing (vers 5).


Die lied in Fil. 2:6-11 word in twee dele verdeel:

In die eerste strofe word Jesus se vernedering trapsgewys beskryf.

Jesus het Hom eerstens verneder deur van sy Goddelike gestalte afstand te doen (vers 6). Hy wat al die eienskappe en kenmerke van God besit het – in besonder die heerlikheid van God - het nie daaraan vasgeklem nie. Letterlik het Hy dit nie vasgegryp nie . Nee, Hy was bereid om Homself vrywillig te verneder (letterlik “leeg te maak”), deur volledig aan mense gelyk te word in alles - behalwe die sonde (vers 7). Jesus het dus nie sy wesens-gelykheid met God tot sy eie eer gebruik nie, maar tot voordeel van ander. Om soos Jesus te wees, beteken nie om alles te kry nie, maar om alles te kan gee met liefde.


Jesus het egter verder gegaan as om net mens te word. Hy het naamlik nie as ’n koning gekom nie, maar as ’n slaaf. As slaaf-mens het Hy Homself nóg verder verneder . Hy was selfs bereid om te sterf (vers 8). Jesus was ten slotte nie net bereid om te sterf nie. Hy het vrywillig die mees vernederende dood denkbaar ondergaan deur gekruisig te word. In die Antieke wêreld was die woord “kruis” letterlik ’n vloekwoord gewees. Jesus versinnebeeld deur bogenoemde dus die grond-motief van nederigheid (om ander hoër te ag as jouself) wat Christene se onderlinge verhoudings moet kenmerk. Die Griekse woord vir Jesus se "ontlediging" is kenosis. Christus het nie krampagtig aan sy Godwees vasgehou toe Hy mens geword het nie, maar Hy het sy deel aan die hemelse heerlikheid en mag prysgegee. Hy het sy hoë posisie by Gods prysgegee. Sy goddelike heerlikheid word nou, as mens, voor die oë van mense verberg. Hy gee die hoogste posisie prys, en neem die laagste moontlike posisie ter wille van ons op Hom: Hy word 'n slaaf.


Die lied het egter 'n tweede strofe:

Die gemeente se lied oor Jesus is egter meer as tipiese blues lied of 'n country lied. In vers 9 kom daar 'n wending in die lied wanneer daar in 'n tweede strofe oor die verheerliking van Jesus deur God gesing word. God het dieselfde Jesus, wat in onderdanigheid en nederigheid gesterf het, tot die hoogste eer in die heelal (bo, op en onder die aarde) en hemel verhef.

Niemand sal sy verhewe status kan ontken nie. Almal, ongeag waar hulle in die drie-ledige geskape wêreld woon, sal deur hulle liggaamshouding en woorde openlik moet bely dat Hy die Here is. Vrywillig of onder dwang sal hulle moet erken dat Jesus alleen die Here is. Jesus ontvang dus nie net die vernaamste posisie in die kosmos nie, maar ook die hoogste naam – “Here” – God se eie naam (vers 11). Dié verheerliking van Jesus verhoog die eer van die Drie-enige God verder (vers 11).


Dieselfde gesindheid van self-ontlediging moet ook in ons wees, sê Paulus. Jesus het vir ons kom wys hoe die karakter van God lyk. Wie God is. Ons moet hierdie selfde gesindheid navolg. Ons kan dit doen omdat Jesus ons nuut maak.


Kenosis (ontlediging) is nie 'n teoretiese begrip wat verstaan of bemeester moet word nie. Dit is iets wat gedoen moet word. Dit is wat die navolging van Jesus vir ons beteken as ons sy lydensweg volg. Laat ons opstaan in 'n nuwe lewe van diens. Saam met Christus.



Comments


  • facebook

Follow

011 837 9770

Contact

Address

41 / 43 Putney Road Brixton South Africa 2019

©2017 This website is managed by Brixton Church

bottom of page