Cholesterol van die hart
- Tersia Engelbrecht
- Apr 8, 2014
- 4 min read

Die hart is die middelpunt van ons emosionele wese. Wanneer jou hart seer is, lei jou hele liggaam daar onder. Ons fisiese hart is nog meer belangrik en as hy siek word, is ons in groot moeilikheid. Cholesterol speel ‘n baie ernstige rol in die diagnose tot ‘n siek-hart. In vandag se lewe kan ons maklik na ‘n internis haas en in baie gevalle lewe pasiënte met hartprobleme en cholesterol nog ‘n vol lewe tot op ‘n hoë ouderdom.
Tog is daar ‘n ander dimensie van hartsiekte wat ons nie altyd aan aandag gee nie en dit is die “emosionele” verstopping van ons are en die aanpak en versameling van “geestelike cholesterol”. Dalk wonder jy nou wat is “geestelike cholesterol”. Laat ek verduidelik dit is al daardie dinge in die lewe wat die “are na die Hart” (kanaal tussen jou en God) verstop en in aanpak. Al daardie dinge wat maak dat daar soms ‘n windstilte in jou geloofslewe plaasvind. Al daardie dinge wat maak dat jy nie met gemak kerk-toe wil gaan of langs iemand in die kerk wil sit of deel wil hê aan ‘n gemeente se aktiwiteite nie. Ja, dit is daardie dinge wat maak dat jy “geestelik-onfiks” word. Die dinge wat maak dat jy vergeet dat jou liggaam die tempel van God is. Die dinge wat maak dat jy nie meer getrou en gereeld met jou Skepper wil praat nie. Daardie dinge wat maak dat jy twyfel in jou God. Die dinge wat maak dat jy dink dat God net by sommige mense is en sommer baie ver van jou af is. Ja, selfs dit wat jou laat glo dat jy nie ‘n kind van God is nie. Geestelike cholesterol!!!
Ons kan dit opnoem, jaloesie, afguns, haat, meerderwaardigheid, eie-geregtigheid, die streel van die eie ego, skewe denkpatrone en gedrag. Ja al daardie dinge wat vir God se hart seermaak! Jy weet presies wat die “geestelike cholesterol” in jou lewe is. Dit wat verspering in jou liefdesverhouding met God inbring is jy goed bekend meer.
God kom en nooi ons uit om aan te sluit by Sy Geestelike Gimnasium. Die Heilige Gees wat in jou woon maak dringend aanspraak dat jy ‘n geestelike oefenprogram in plek sal stel. ‘n Program wat weer die “are na die Hart” sal skoonmaak en oopmaak en die liggaam weer laat funksioneer soos wat God dit wou gehad het.
ʼn Geestelike program wat jou in alle omstandighede God met blydskap sal laat dien. ‘n Oefenprogram wat daartoe sal lei dat jy innerlike geluk, vrede en vreugde sal ervaar in die moeilikste en tergendste omstandighede. Hierdie oefenprogram hou nie net tydelike waarde in nie, maar is ook betekenisvol in die hiernamaals.
Jy wonder dalk nou waar gaan jy die soort van gimnasium opspoor. Gelukkig hoef ons nie ver te soek nie. Die gimnasium is nie ver van jou af nie, maar oral waar jy die Here opreg dien in woord en daad. Die Heilige Gees doop die oefenprogram: Oefen om toegewyd aan God te lewe.
Hierdie oefenprogram verg dat jy daagliks ‘n afspraak met God sal hê. ʼn Afspraak waarin die “geestelike-cholesterol” in God se liefde afgekrap en geskraap kan word. ‘n Afspraak met God om die versorging en jou hart met ‘n fynkam deur te werk. Ja, jy sal moet voor God uittrek. Totaal en al die kamers van jou hart moet oopmaak en selfs die verstopte are vol van “geestelike-cholesterol” voor Hom openbaar maak. Dit is ‘n seerproses! Dit is ‘n proses van skaamkry! Dit is ‘n proses van ongemak!
Dit is ‘n proses van geen verskoning, maar die ontbloting van die waarheid! God se oog sien alle “cholesterol” raak. Selfs in die diepste ingewande en in die diepste gedagtes wat nog in jou brein gevorm moet word. Die “geestelike-cholesterol” is nie vir God se oog versteek nie. Wanneer die Here met Timoteus as jong dominee praat wys Hy op die “geestelike –cholesterol” waarvan Timoteus moet wegbly. Onwaarhede, valshede, vuiltaal. Die Here wil so ook die “geestelike cholesterol” in ons lewens verwyder. Die agter-die-hand besprekings oor ander mense, die skinder oor iemand se swaarkry of verleentheid, die maklike gebruik van God se Naam in frustrasie-oomblik of moedeloosheid of om ʼn punt te maak. Ja dalk praat die Here vandag met jou oor jou “geestelike-cholesterol” die drank wat jy misbruik, die een sigaret na die ander wat jy gebruik en nie dink aan jou longe, jou liggaam wat God in kunstigheid gebou en geweef het nie, dalk selfs net, dalk praat God met jou oor jou swak-eetgewoontes. Alles “Geestelike-cholesterol”.
Ons sal ons gedragspatrone moet verander om weer ontslae te raak van die “geestelike-cholesterol” wat in ons are aangepak het. Ons sal weer soos ‘n atleet op ‘n baan gedissiplineerd na wenpaal nael ons fokus moet verskuif na God.
Paulus se aanmoediging aan die jong geloofsatleet Timoteus is ‘n aanmoediging vir elkeen van ons wat siek is van “geestelike-cholesterol”. Hy moedig vir Timoteus aan om te “oefen”, “sy kragte in te span”; “moenie jou geestelike lewe wat jy van God ontvang het verwaarloos nie;, en belangrik let goed op na jou leer en lewe.” Laat ons grootste aanmoediging in hierdie Lydenstyd wees om geestelik fiks te wees, om ‘n goeie dienskneg van Christus te wees. Volg Jesus se voorbeeld na. Hy het alles vir jou gedoen. Elke stukkie “geestelike-Cholesterol” het Hy vir jou oorwin aan die kruis.
Onthou om jou “geestelike-Cholesterol-telling” onder beheer te kry gaan verg dat jy op jou knieë weer sal kniel en weer jou Vader op ‘n gereelde afspraak ontmoet. Om in Sy stilte te kom sit en te hoor en te leer en wys te word. Om weer ‘n gesonde aar lyn op te bou en om weer jou hartklop een met die Vader se hartklop te maak verg ʼn prys.
Die prys is jou lewe. ‘n Lewe gewy aan die Here. ‘n Lewe wat getuig van gereedheid vir die oomblik wanneer God aan jou hart se deur klop om jou te neem na jou Ewige-huis by jou Vader. Is jy gereed om “geestelik-Cholesterol-vry” saam met God die wen prys te behaal?
Matt.25:23 “En met die dag van Jesus, ons Here se wederkoms, sal Hy jou sonder vlek of rimpel voorstel aan sy Vader en jy sal mag hoor: ‘Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde.”
Mag die Here ons inskryf in Sy gimnasium en mag ons verlos word van “geestelike- cholesterol”.
Amen.
Comments