AANGEKLA….
- Tersia Engelbrecht
- Jan 4, 2022
- 2 min read

‘Die Here het vir die Satan gesê:”Ek sal jou straf, satan,….hierdie man is soos ‘n stuk hout wat uit die vuur geruk is”
Sagaria 3:2
Ongeveer 2500 jaar gelede het die Here ‘n man gestuur om die Jode wat uit Babilon teruggekeer het en Jerusalem en die tempel moes gaan herbou, te gaan bemoedig.
Hierdie man was Sagaria.
Sagaria se boodskap aan die volk was telkens: “God sorg vir ons. Daar wag ‘n nuwe toekoms.” Die boodskap het hy in 8 visioene ontvang. Die vierde gesig was dan van ‘n hofsaak. ‘n Saak waar die hoëpriester die Aangeklaagde was. Die Aanklaer niemand anders as die satan en die Regter die Here-Jesus Christus. Die aangeklaagde was nie net van sy eie sondes beskuldig nie, maar het sommer gedien as verteenwoordiger van die hele volk met hul sondes. Daar het hy gestaan in sy verskriklike verslonsde, onversorgde, uitgelewerde “vuil klere”. Die taak van die satan was so maklik gewees, want die uiterlike van die hoë priester, het gepas in die prentjie van iemand wat skuldig sou wees, vuil en verslons en sondig staan dit wyd in sy optredes en oor sy kop geskryf. Satan het die mens se oë verblind deur vas te staar na die uiterlike. Die hier en die nou. Die optrede die nalatigheid die slonsagtige voorkoms, die vuil kolle orals, dit wat van die aangeklaagde gesê en gefluister was, dit wat mense van hom gedink het, maar die hofsaak neem ‘n radikale wending. Die Regter draai na die aanklaer. Sy optrede heeltemal teenstrydig met die verwagting. Hy verklaar die beskuldigde – Onskuldig en bestraf die aanklaer! Wat ‘n ongewone en onverwagse wending.
Die Aanklaer bestraf! Die Aangeklaagde onskuldig!
Wat sou die rede wees vir die onverwagse uitspraak? Dit is so mooi geskryf in die woorde: “Ek het Jerusalem en sy mense uitgekies. Ek het die man en die volk soos ‘n stuk brandhout uit die vuur geruk!”
Ons sou in stille verbasing die optrede nagestaar het en getob het oor die uitspraak en die ongewone manier waarop die hofsaak omgeswaai het. Wat die hofsaak meer buitengewoon maak is dat die aangeklaagde se sondes nie net vergewe was nie, maar dat daar ‘n “hofordonans” ‘n engel, opdrag kry om aan die aangeklaagde skoon klere te gaan haal.
So kla die wêreld ons dikwels aan. Dikwels kry satan met die lekkertoon in die grond gedraai wanneer ons skuldig en aangeklaag lyk! Satan kan so baie kry om ons oor aan te kla, so baie teen ons inbring. Hy is mos immers die engel van lig gewees en ook van musiek…die engel wat die mooiste in die hemel was. Maar God het deur hom gesien en hom uit die hemel gewerp.
So kyk ons Redder ook na ons in elke aanklag van satan teen ons. Ons Regter, ons Redder sorg vir ons. Hy hou vir ons ‘n toekoms in Sy hande. Nuwe klere en ‘n nuwe lewe.
Mag die woorde altyd vir jou en my so naby bly wanneer die mens en die wêreld ons wil aankla of ons in onguns wil bring:
“Ek het jou oortredings vergewe en ek gaan vir jou skoon klere aantrek!”.
Amen.
Comentários