Die gawe van uitreik en omgee
- Margaret Halgryn
- Mar 12, 2021
- 2 min read

Dit is vreemd om te dink dat ons al 'n jaar lank in hierdie nuwe normaal van “afsondering” en inperking leef. Ons vind dit nie snaaks om orals 'n masker saam te dra nie. Dit is nou al deel van die aframmellysie as jy huis verlaat – “sleutels, beursie, selfoon, masker….”. Jy draai al minder om in die parkeerarea om jou masker te gaan haal wat jy in die kar vergeet het. Ek vermoed ons het al almal by 'n winkel se deur omgedraai omdat jy 'n masker vergeet het.
Ons is die afgelope jaar gedwing om nuwe maniere te vind om saam te wees. Tegnologie is grootliks hiervoor ingespan. Eredienste is noodgedwonge deur middel van tegnologie aan lidmate gebring. Ons is diep kant ingegooi met die lewendige uitsending van begrafnisse en ons eerste poging het nie goed verloop nie. Ons moes bitter vinnig aanpas in 'n tegnologiese wêreld. Ons het geleer van programme en terminologie wat nooit eers van gehoor is nie.
Maar tegnologie het gehelp om al ons lidmate te bereik. Ons kan selfs nuwe mense bereik wat 'n behoefte het aan die Here se Woord. Ons sosiale media platforms is uitgebrei en volstoom aan die gang. Ons het geleer hoe om teen minimum koste tegnologie tot ons voordeel te gebruik. Ons moet veral DorKk Studios bedank vir hulle hulp en tyd.
Maar as ons al die tegnologiese wonders en probleme eenkant toe skuif, bly ons hoofdoel en taak om Jesus se hande en voete op aarde te wees. En ons streef dit steeds elke dag na. Ons is mal daaroor om betrokke te wees in ons gemeenskap en as ons dit kan doen deur voedselverspreiding of om deel te wees van gemeenskapsinisiatiewe, dan is ons dankbaar vir die voorreg om ons gemeenskap te kan dien.
Ons wil jou dan ook nooi om deel te word van hierdie missie. Ons het hande gevat met die African Reclaimers Organisation (ARO), wat weekliks alle herwinbare plastiek by verskeie huise versamel, en 'n groot houer op ons perseel staan gemaak. Sodra die houer vol is sal ons dat hulle dit kom leegmaak en weer van vooraf opvul. Op hierdie wyse help ons die aarde, maar ook verskeie gesinne wat hulle enigste inkomste verdien deur hierdie herwinningsinisiatief.
Die Here roep ons ook in hierdie tyd van Covid-19 om hande te vat en uit te reik op elke denkbare wyse. Ons kan die aarde help deur herwinning, maar ons help ook gesinne in die proses. Ons vermoë om te kan uitreik word immers deur die Here moontlik gemaak. Ons kan en mag ons nie doof hou nie.
My gebed is dat die Here ons oë en ore en hande sal open om altyd bereid te wees om uit te reik, hetsy deur tegnologie, herwinning of enige ander wyse wat Hy goedvind. Mag die Here ons seën met wysheid en geloof in die praktiese uitlewing van ons roeping.
Comments