Geloof & Dankbaarheid
- Margaret Halgryn
- Oct 1, 2020
- 3 min read

Die grendeltyd van die afgelope 6 maande het ons almal op verskillende maniere geaffekteer. Sommiges het skoongemaak en hulle huise omgekeer om alles skoon te kry. Dit het ook verveeldheid en angs verdryf. Ander het nog harder gewerk, al was dit van hulle huise af. Ander het weer so bietjie nostalgies geraak oor tye wat was. Persoonlik het ek so bietjie gaan delf in die verlede.
Dit was nogal lekker om weer musiek te herontdek wat jy jare lank nie na geluister het nie. Dit was goed om te besef dat jy dit tog gemis het om na die musiek te luister. Dan is daar ou bekende films en reekse wat die nostalgie nog verder aangeblaas het. Die feit dat jy ingeperk was tot jou huis en tuin het gehelp dat ons ‘n oormaat tyd gehad het om ‘n onthou-reis te doen.
Dit het ook ander nostalgiese onthou-dinge na vore gebring. Mense en gebeure wat ons paaie gekruis het oor jare. Die groot onthou het egter ook ‘n groot stuk dankbaarheid meegebring.
Ons kan almal met dankbaarheid oor ons lewens terugkyk. Ten spyte van moeilike tye, tye van swaarkry, tye van hartseer, tye van opgewondenheid en selfs tye wat nie onthou kan word nie, is ons vandag in ‘n posisie om terug te kyk met dankbaarheid.
Daar was oor al die jare een konstante teenwoordigheid in ons lewens. Dit was onmiskenbaar daar. Ons het dit met tye totaal misgekyk of net in die verbygaan dalk erken, maar dit was daar. Hierdie teenwoordigheid is en was nog altyd God. Ons God het in elke oomblik van ons lewens nie een keer ons verlaat nie. Hy was altyd by ons, in ons en om ons. Hy is die een wat ons nooit in die steek gelaat het nie. Hy het die pad aangedui al was ons dalk soms hardkoppig om te volg.
Ons huidige situasie in hierdie wêreld het groot onsekerheid gebring. Dit het ook baie hartseer en pyn meegebring. Die grendeltyd het baie mense se angs en depressie tot uiterstes gedwing. Dit het ons almal verander op wyses wat ons nooit gedink het moontlik was nie. Ons is daarvan weerhou om normaal met ons geliefdes om te gaan. Ons is daarvan weerhou om ‘n eenvoudige handdruk aan iemand te gee. Ons is selfs daarvan weerhou om ons geloof saam met medegelowiges te beoefen.
Kerk-wees het ingrypend verander. Die kerk het skielik moes dink hoe om mense by te staan sonder om fisiese kontak met hulle te hê. Kerk-wees is gestroop van alle onnodige aksies en programme. Ons moes leer om dinge op nuwe maniere te doen.
Vandag het ons weer ‘n mate van “normaliteit” bereik. As ons terugkyk, ook oor die afgelope ses maande, dan kan ons opnuut met groot dankbaarheid erken dat die Here steeds die enigste onveranderlike in ons lewens is. Hy het ons elke dag gedra. Ons wat wel die virus opgedoen het, weet dat Hy mense oor ons pad gestuur het om te help. Waar daar verliese was, het Hy troos gebring. Waar daar wanhoop was het Hy die Lig gebring. Ons God het ons inderdaad gedra.
Die vraag is nou wat ons volgende gaan doen? Gaan ons terugval in ons ou weë van ‘n gejaagde lewe, of gaan ons hierdie besef van dankbaarheid verder toelaat om ons lewens te omvorm? Gaan ons vertroue in God behou omdat ons weet uit die verlede dat Hy getrou is?
Ek wil jou nooi om jou absolute, onwrikbare vertroue in God te behou. Ons weet God het Hom van die vroegste tye bewys as ‘n genadige, liefdevolle God en Hy bring altyd uitkomste en antwoorde. Daarom kan ons ook ten spyte van ‘n deurmekaar wêreld waar Covid-19 tans alles omgooi, weet dat Hy steeds in beheer is. Hy het alles in Sy hand en Hy weet reeds wat volgende gaan gebeur, want Hy is reeds daar.
Ons moet net vertrou en geloof behou. Hebreërs 11:1 en 3 herinner ons dat God alles onder beheer het, al sien ons dit nie onmiddellik nie.
“Wat is geloof dan? Dit is ‘n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak.
Omdat ons glo, verstaan ons dat God, deur net ‘n woord te spreek, die ganse heelal geskep het. Dit wat ons nou kan sien, het dus nie uit sigbare dinge ontstaan nie.” (NLV)
Mag God daagliks jou geloof versterk sodat jy in dankbaarheid kan uitsien na dit wat voorlê.
Comments