BYBELSE ONDERSKEIDING
- Ds. Hennie van Rooyen
- Apr 1, 2016
- 3 min read

Eenvoudig gestel is Bybelse onderskeiding die vermoë om te kan onderskei tussen die waarheid en ʼn leuen, tussen reg en verkeerd. Dit is die vermoë om insig te hê in mense en dinge, of situasies te verstaan, of om duidelikheid te verkry en dinge te kan verklaar. Onderskeiding is die versigtige proses om die waarheid te vind. Met ander woorde is die vermoë om met onderskeiding te dink sinoniem om volgens Bybelse beginsels te dink.
Een Tessalonisense 5: 21-22 leer ons dat dit die verantwoordelikheid van elke Christen is om oordeelkundige te wees: "maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is." Die apostel Johannes reik 'n soortgelyke waarskuwing uit in 1 Johannes 4: 1 "Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is." Volgens die Nuwe Testament is onderskeiding nie opsioneel vir die gelowige nie – dit is ʼn vereisde.
Die sleutel tot 'n onwrikbare lewe lê in 'n gelowige se vermoë om onderskeiding te beoefen op elke gebied van sy of haar lewe. Byvoorbeeld, versuim om te onderskei tussen die waarheid en ʼn dwaalleer kan ʼn Christen weerloos laat en uitlewer aan allerlei dwalinge. Die navolging van so ʼn dwaalleer lei dan tot 'n onbybelse ingesteldheid, wat weer lei tot ʼn onvrugbare en ongehoorsame lewe. Dit is 'n sekere resep om as Christen wêreldse kompromieë aan te gaan.
'n Goeie beginpunt in die beoefening van onderskeiding is die navolging van Jesus. Ons lees in 2 Petrus 1: 3: “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Jesus ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag." Dit is deur die "ware kennis van Jesus" dat ons alles gegee word wat ons nodig het om 'n Christelike lewe te lei in hierdie gebroke wêreld.
Onderskeiding as die vermoë om volgens Bybelse beginsels te lewe is onontbeerlik vir 'n onwrikbare lewe. Dit is noodsaaklik vir 'n Christen om die onderskeiding wat God in sy Woord as die waarheid aanbied, na te volg. “Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie”, skryf Paulus in Efesiërs 4:14.
Hoe kan gelowiges in geestelike onderskeiding groei? Eerstens, erken dat God die enigste Een is wat wysheid kan laat toeneem en daarom moet ons daarvoor bid (Jakobus 1: 5 en Filippense 1: 9). In die tweede plek, om die regte van die verkeerde te onderskei, kom deur praktiese oefening. Ondersoek die Bybel om die waarheid te ontdek en mediteer oor die Woord. Die waarheid sal jou vry maak en versterk.
Ons moet die outentieke (waarheid) so goed ken, dat wanneer die valse verskyn, ons dit onmiddellik kan herken. Deur gehoorsaamheid aan die Woord van God, sal ons “nie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar God sal ons verander deur ons denke te vernuwe. Dan sal ons ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is" (Romeine 12: 9).
Comments