top of page

DIE ONVERWAGSE BOODSKAP VAN KERSFEES


Jesus het die verwagting van die wêreld van opwaartse verhoging op sy kop kom keer deur af te kom aarde toe en sin en betekenis aan aardse lewe te kom gee.

Die grootste ironie en skoonheid van die Christelike geloof is die Evangelie dat die Een wat voor die skepping bestaan het, wat meer verhewe en kragtiger as enigiemand is, dieselfde Wese is wat nie sy verhewe posisie as 'n platform vir eer en roem gebruik het nie, op ʼn spesifieke tyd Homself verlaag en verneder het, om ons te red van ons sondige bestaan.

Die grootste storie wat ooit vertel word, is nie 'n armoede tot rykdom storie nie, maar wel ʼn rykdom tot armoede tot verheerliking storie!

In sy brief aan die Filippense (2: 5-11) gebruik Paulus die teks van 'n bekende loflied oor die nederigheid wat deur die menswording van Jesus geïllustreer word. Dit is die onverwagsheid van die kersverhaal. Paulus vertel die Filippense dat hulle troos kan vind in die navolging van Christus. Hy het sy Goddelike posisie as deel van die Drie-eenheid prysgegee om met die mens te identifiseer in ons pyn en lyding. Jesus het nie vasgehou aan sy heerlikheid in die hemel nie, maar Homself leeggemaak van sy heerlike posisie. Die Griekse woord wat Paulus gebruik is, kenosis, wat beteken om alles te gee en niks terug te hou nie.

Die selfontlediging wat Paulus beskryf, kan 'n moeilike begrip wees vir ons as mense om te verstaan. Jesus het nie Homself vernietig of uitgevee nie, Hy het Homself aangebied. Hierdie voorbeeld van gee en diens word gesien in die manier waarop Hy die dissipels liefgehad het, die siekes wat na hom gekom het vir genesing, die skare wat na sy verhale gevlug het en die liefde wat Hy uitgegiet het as 'n offergawe aan die kruis. Dit was deur prys te gee en af te lê dat ons ontvang het en dit word ʼn voorbeeld vir ons: om te gee is eintlik om te ontvang.

In ons wêreld van selfbehoud, selfbevordering en egoïsme, is die woorde van Filippense 2: 5-11 ʼn vreemde konsep. Met soveel mense wat strewe na mag, waarom sal Christus sy verheerlikde posisie weggee? Hierdie vraag sit agter die teks en nooi die lesers uit om 'n werklikheid te sien wat baie anders is as die een wat dikwels verstaan en ervaar word. Wat as menslike optrede veronderstel is om meer soos Christus se optrede te lyk as dié van die verskillende wêreldleiers in magsposisies vandag? Wat sal gebeur as ons hierdie beeld van God ernstig omhels in ons wêreld?

Met ander woorde, Paulus herinner ons dat ons deur Christus nie meer gedefinieer word deur ons aardse geslagsregisters, wêreldse geskiedenis of selfs deur ons maatskaplike en kulturele norme nie. In plaas daarvan illustreer Christus die hart van die God wat bewys dat God bo alles 'n God van liefde en verhouding is; 'n God wat bereid is om vernedering en verwerping te ondergaan ter wille van versoening.

Dit is in die lig van al hierdie dinge wat Paulus aan die Filippense en ons sê: "Goed, het jy die prentjie? Goed, gaan maak ook so!" Min uitdagings kan groter wees. Natuurlik, die rede waarom die uitdaging so groot is, is juis omdat hoogmoed die teenoorgestelde van God se karakter is. In plaas daarvan word ons geroep tot nederigheid - 'n nederigheid wat, in teenstelling met hoogmoed, ons met ander verbind. Hoogmoedigheid isoleer mense van mekaar. Nederigheid alleen lei tot diens, liefde, vriendelikheid, inderdaad tot die lewe self. Nederigheid verbind mense aan mekaar. Hoogmoed is geïnteresseerd in die self ten koste van ander terwyl nederigheid in ander belangstel ten koste van die self. Nederigheid stel homself oop vir God en ander en is nie egosentries nie, maar oop vir ander soos 'n blom in volle bloei en, soos by Jesus, is dit mooi vir almal om te sien.

Inderdaad, die grootste verrassing van die loflied in Filippense 2 is die feit dat die Seun van God nadat Hy sy lewe uitgegiet het op 'n hoër vlak van verheerliking gekom het as wat Hy voorheen geniet het voordat Hy mens geword het. Filippense 2 sê dat dit moontlik is omdat Jesus nie alleen God is nie, maar Hy is die Heer van Here. Nederigheid, sê Paulus, kan en het die wêreld verander!

Mag jy en jou familie ʼn geseënde Kersfees ervaar met voorspoed vir 2018!

Comments


  • facebook

Follow

011 837 9770

Contact

Address

41 / 43 Putney Road Brixton South Africa 2019

©2017 This website is managed by Brixton Church

bottom of page