DIE KRUIS IS SENTRAAL
- Ds. Hennie van Rooyen
- Jun 1, 2017
- 3 min read

Ons kyk na die wêreld deur die kruis van Jesus. Ons lewens word deur die kruis van Jesus sin gegee en ons geloofsoortuigings word deur die kruis bepaal. Ons is baie bevoorreg om ʼn kruis wat deur ds. Dieter Berner geskilder is, waarop die hoofmomente van Jesus se lewe uitgebeeld word, aan die gemeente bekend te stel. Dit beeld die volgende tonele uit: Jesus se geboorte; Jesus se doop; Die roeping van Jesus se dissipels; Die voetewassing van die dissipels; Jesus bid in Getsemane; Die kruisiging van Jesus; Die opstanding van Jesus; Jesus verskyn aan Tomas; Pinkster; Jesus klop aan die deur van ons harte (Openbaring 3:20) en Die wederkoms van Jesus.
As deel van die geloofsgroei van Christene het ons nodig om op verskillende maniere met Jesus te verbind. Een van die wyses wat ideaal geskik is om ons in meditasie en kontemplasie te help is om na uitbeeldings van die lewe van Jesus te kyk. Deur na ʼn spesifieke beeld, skildery of tekening te kyk en toe te laat dat die Here deur sy Gees aan ons ʼn boodskap oordra, het die potensiaal om ons verhouding met die Here te laat groei en verdiep. Die kleure, vorm, atmosfeer en styl van ʼn beeld, dra aan ons ʼn boodskap oor wat ons op ʼn nuwe manier na God en onsself laat kyk. Dit help ons om al ons sintuie in te span om die boodskap van die Evangelie van Jesus op ʼn dieper vlak te verstaan. ʼn Prent het die vermoë om ons op ʼn emosionele vlak aan die spesifieke Bybelse gebeurtenis te bind en nuwe geestelike waarhede te bring. Dit verdiep ons verhouding met God.
Op ʼn Woensdagmiddag om 17:00 in die gebedskamer (konsistorie) word ʼn geleentheid gegee vir nadenke, kontemplasie en meditasie. Hierdie geskilderde kruis dra by tot nog ʼn manier om oor ons verhouding met die Here na te dink en ons tot nuwe insigte te lei. Die hele kruis is doelbewus nie beskilder nie. Die oop gedeeltes (aan die onderkant van die vertikale balk) is daar sodat ons deur meditasie ons lewens en ons stories met Jesus in daardie ruimtes kan “sien”. Ons kry die geleentheid om ons eie “prentjie” by die ander te “sien” en so die lewe wat ons nou leef aan Jesus te verbind.
Die besondere lied wat Paulus aanhaal in Kolossense hoofstuk een oor die sentrale rol wat Jesus speel in ons geloofsverhouding met God, is die inspirasie vir die beskilderde kruis:
15Die Seun is die sigbare uitbeelding van die onsigbare God. Hy is die Eerste van die hele skepping, 16omdat God alles deur Hom geskep het. Ja, alles in die hemel en op die aarde – die dinge wat gesien kan word en die dinge wat nie gesien kan word nie, of dit nou konings of heersers, regeerders of magshebbers is – álle dinge is deur Hom en vir Hom geskep. 17Hý was daar vóór alles, en in Hom word alles saamgebind. 18Hý is die hoof van die kerk, sy liggaam. Die Seun is die begin. Hy is die Eerste wat uit die dood opgestaan het sodat Hy inderdaad eerste in alle dinge is. 19God het dit goedgedink om met sy volle Goddelikheid in die Seun te woon, 20en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy vrede gemaak. Ja, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.
Comments